’n Hawelose voetganger is verlede Woensdag (8 Mei) in ’n noodlottige padongeluk op die N2 in Somerset-Wes dood.
Die voorval het douvoordag op die snelweg oorkant Somerset Mall gebeur en ’n vermeende inwoner van die plakkerskamp wat ’n hanetreetjie van die winkelsentrum opgeskiet het, geëis.
Die slagoffer, wat op die toneel dood verklaar is, is later geïdentifiseer as die 43-jarige Ebrahim Johnson wat glo jare lank op straat was.
Die oorledene se oom, Noor Johnson (64) van Macassar, vertel hy is oor die ongeluk ingelig deur ’n familielid van die broerskind wat op pad werk toe op die ongelukstoneel afgekom het. Volgens hom het die familielid in die taxi wat uit Macassar op die snelweg na Somerset-Wes onderweg was, ’n oproep ontvang met die nuus en by die ongelukstoneel uitgespring om ondersoek in te stel.
“Daar word beweer dat hy voor 06:00 met ’n stootwaentjie langs die pad geloop het, vermoedelik om skrootmateriaal op te tel.
“Die aankomende motor het hom glo van agter getref. Hy is weens die impak glo teen die voorruit geslinger en het in die pad beland,” vertel hy.
Die Stad se Verkeerdienste het bevestig dat beamptes om 05:53 op die toneel arriveer het en teen 09:20 opgeruim het.
Die Somerset-Wes-polisie het bevestig dat beamptes omstreeks 07:53 op die voorval gereageer het en ’n saak van strafbare manslag ondersoek word.
Johnson vertel voorts dat die slagoffer baie seergekry het, en veelvuldige frakture aan sy liggaam, insluitend sy nek opgedoen het.
Hy en sy vrou, Shamiela, het die leiding geneem om die oorledene se lyk, nadat sy liggaam amptelik Woensdag deur ’n naasbestaande uitgeken is, die volgende middag (Donderdag) by die lykshuis te gaan haal vir die janazah (begrafnis) wat ingevolge die Moslemgeloof uitgevoer is.
“Hy was orraait, altyd vriendelik en niks deurmekaar nie. Hy het jare gelede op straat beland nadat sy ma padgegee het en sy pa gesterf het.
“Hy sal onthou word vir al die goeie tye, en al die goeie goed wat hy wel gedoen het.”
Hy word oorleef deur twee broers en ’n suster wat hom onlangs vir die eerste keer in 25 jaar by ’n Sondag-byeenkoms wat vir die gesin deur die einste familielid wat op die ongeluk afgekom het, gereël is.
Die egpaar het hul dankbaarheid uitgespreek teenoor owerhede wat hulle nie net te gemoet gekom het nie, maar aan die hand gevat het met die hele proses, veral om die doodsertifikaat (sonder ’n identiteitsdokument) te verkry.



