Craig Roos is die man wat verwaarloosde grafte weer mooi laat lyk. Foto: Rick Marais


’n Inwoner van Broadlandspark, wat deur ’n moeilike tyd in sy lewe is, moes plan maak vir werk, en deesdae maak hy die grafte van mense se geliefdes mooi vir ’n ekstra geldjie.

Craig Roos (30), wat destyds deur die EPWP (Extended Public Works Programme) gekontrakteer is om met begrafnisse te help, het nou op sy eie begin om grafte mooi te maak – teen ’n fooi.

“Ek het gesien hoe sleg lyk die grafte as dit begin sak en soms val die kruis later op die graf, so erg het dit gesak. Dit gebeur in ons gebied weens die soort klei-grond wat ons het,” vertel Roos terwyl hy by een van die grafte staan wat hy pas in Rusthof se begraafplaas “oorgedoen” het.

Hy sê hy het so ses maande gelede met dié idee vorendag gekom om mense te vra of hy na hul geliefdes se grafte kan omsien.

“Ek het tot nou aan so 17 grafte gewerk. Dis harde werk. Ek moet op ’n sekere plek grond met ’n kruiwa gaan haal, dan op ’n ander plek klippe. Ek beskou die werk as my verlossing; dit red my en help my om ’n beter mens te wees.”

Roos is ’n paar jaar gelede van verkragting aangekla en dit het sy hele lewe omver gegooi.

“Die saak is onlangs uitgegooi – dit was ’n valse storie wat teen my gemaak is. Maar my hele reputasie is geskend en ek het myself verloor; ek het my kruis verloor en afvallig geword.”

Sedertdien het hy besluit om sy eie lewe “oor te doen” en beskou die werk met grafte as iets wat hom gered het.

“Ek is besig om my lewe terug op die pad te kry. Ek is besig om myself weer op te tel. Ek het ’n visie en ’n droom.”

Hy is tans op soek na ’n vaste werk as maatskaplike werker, maar tot dan doen hy waarvoor hy lief is.

“Ek gaan haal self die klippe waarmee ek werk en ek maak self die versierings in bottels wat ek op die grafte plaas. Ek pluk ook self mooi plante om op die grafte te sit.

“Mense kontak my gereeld en vra vir hulp. Dan vertel ek hulle wat ek doen en dat dit R250 kos om die graf op te vul en my eie bottels en klippe op die graf te pak.” Hy vra egter ekstra geld om die kruise oor te doen en vertel mense het eintlik planne van die munisipaliteit af nodig as hulle grafte met bakstene en sement wil bou.

“So ’n rukkie terug is een van my grafte afgebreek en die mense het ’n groot boete gekry. Ek het my les geleer en vertel die mense nou om eers ’n plan te kry voordat ek met bakstene en sement begin bou.”

Vir sy gewone opvulling en mooimaak van grafte het hy nie ’n permit of bouplanne nodig nie. V Indien jy ’n geliefde se graf wil laat oordoen, kan jy Roos gerus by 083 522 9581 bel.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article