Dis ’n Donderdag toe my foon pieng. Dis ’n boodskap – ’n WhatsApp-boodskap van ’n vrou wat besluit het om haar poniestert af te sny. Sy het selfs ’n foto van die poniestert ingesluit. “Ek het besluit om my poniestert vir kanker te skenk,” lui die boodskap.
Ek kyk af na die foto, maar dink nie aan die vrou of die feit dat sy die poniestert vir kanker geskenk het nie. Ek dink aan Tom Cruise in ’n fliek genaamd The last Samurai. In die fliek is ’n toneel waar Japannese soldate ’n samoerai-vegter vasdruk, en om hom te verneder, sny hulle sy poniestert af. Die man skree wild terwyl hy verneder word. So paar oomblikke daarna word sy poniestert op die grond gegooi.
In die lewe van die samoerai word geglo wanneer ’n samoerai se poniestert afgesny word, gee hy sy sosiale rang prys.
“My pa het kanker gehad. Ek het besluit om my poniestert vir Kansa te skenk, want my pa stel altyd ’n goeie voorbeeld vir ons en is (en was) altyd daar vir ons – selfs toe hy kanker gehad het,” lui die boodskap verder.
Ek wonder hoe werk dit? Hoe weet die Kankervereniging van Suid-Afrika (Kansa) dat die hare skoon is en nie vol luise is nie?
Ek reik uit na Christa Claassen, ’n afgetrede Kansa-werker, saam met wie ek gereeld gewerk het toe ek nog ’n joernalis in Worcester was.
“Die mense sny hul hare, maar weet dan nie wat om daarmee te doen nie. Dan aanvaar Kansa dit en stuur dit aan die pruik-banke by Kansa, wat pruike vir kankerlyers maak,” lig Christa my in.
Ek gaan lees verder op en sien kankerlyers verloor hul hare weens chemoterapie, en dit is waarom Kansa pruike van sintetiese en natuurlike hare in verskillende style en kleure stoor om dit dan makliker te maak vir kankerlyers om weer “normaal” aan te gaan met ’n pruik op die koppe.
Op Kansa se webwerf word aangedui die hare moet verkieslik skoon en droog wees wanneer dit geskenk word. Die hare kan gekleur of natuurlik wees.
Cruise, wat die rol vertolk van Nathan Algren, ’n Amerikaanse soldaat wat ’n effense drankprobleem het, is aan die begin van die fliek juis aangestel om die Japannese weermag teen die samoerai-vegters te begelei. Tydens Algren se eerste “ontmoeting” met die samoerai’s tydens ’n geveg, maak hy ’n samoerai-vegter dood met ’n vlag waarop ’n wit Tier is. Die leier van die samoerai’s sien dit as ’n teken en besluit om Algren (Cruise) as een van hul gevangenes lewendig te hou.
Toe Algren sien die samoerai so hard baklei om hul waardes te behou, het hy aan die einde van die fliek besluit om saam met hulle teen die imperialistiese Japannese weermag te gaan veg. Algren het ’n metamorfose in die storie ondergaan waar hy leer om sonder drank te leef en boonop liefde gevind.
Nes Algren opgestaan het om vir waardes te veg, sien ek die poniestert in die foto in ’n nuwe lig. Nee, dis nie net iemand wat haar poniestert gaan afsny het om dit te skenk nie – dis iemand wat die waardes wat haar eie pa in haar gevestig het, toepas om die lewe van iemand anders makliker en gemakliker te maak deur haar hare – haar poniestert – te skenk om vir ’n pruik gebruik te word.
Dít is opoffering – ’n liefdesdaad en iets van jouself gee om ’n ander mens te help.
Ek kyk met nuwe oë na die skenker. Sy is nie net ’n vrou nie; sy is ’n hedendaagse samoerai.



