Die Yard Boyz-krieketspan wat onlangs koning gekraai en met die wisseltrofee weggestap het. Foto: Rick Marais


In Macassar, waar misdaad ’n groot probleem is, het ’n paar krieketliefhebbers uit die gemeenskap by mekaar die nood raakgesien om jongmanne positief te betrek en ’n informele kriekettoernooi gereël om hulle uit die strate te hou.

William Claassen, een van die organiseerders van die toernooi, vertel die spelers kom elke Sondagmiddag met ’n liefde vir die kolf-en-bal-speletjie bymekaar en speel in vriendskaplike wedstryde vir die wisselbeker.

“Die manne kom op die oop veld langs die NG kerk in Soekmekaarstraat bymekaar. Ons het eers klein begin; die idee was om die kinders en jongmanne uit die strate en weg van bendes te hou,” vertel Claassen.

Die toernooi het sedert die eerste wedstryd, wat verlede jaar plaasgevind het – toe die Yard Boyz teen E-blokke gespeel het – posgevat en heelwat gegroei. Daar is nou nege spanne en jong krieketliefhebbers kan kies of hulle vir Never Loose, Corner Boys, Yard Boys, Don Dons, World X1, Krymekaar Kings, E-blokke, Chris Hani Park of die Barbarians op die veld wil stap.

“Sondae is wanneer die aksie gebeur. Die mense kom parkeer langs die veld. Hier speel musiek. Almal kan die krieket gratis kom geniet. Dis ’n kans om weg te kom en om te vergeet van al ons ‘worries’,” voeg hy by.

Die spanne deel ’n paar krieketkolwe en balle onder mekaar, maar volgens Claassen wil hulle uitreik na sakeondernemings en vra of hulle ’n paar nuwe kolwe, balle en trofeë vir die prettige, opbouende informele kriekettoernooi kan borg.

“Ons wil graag die res van die gemeenskap ook nooi om ons te kom ondersteun, veral oor Paasnaweek wanneer die spanne daardie Sondag (31 Maart) uitdunrondes gaan speel en waarna die eindronde Maandag (1 April) gespeel sal word.

“Die toernooi gaan bekend staan as die Joey Galant-toernooi ter ere van dié uitmuntende rugby- en krieketspeler,” sê Claassen. . Vir meer inligting of skenkings van krieketkolwe, -balle of trofeë, kontak William Claassen by 072 623 2369.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article