Die baba-Bok Gino Cupido is Saterdag (26 Julie) met joligheid en groot trots terug by die huis verwelkom! Die Sir Lowry’s Pass-gemeenskapslede het gejubel en gedans en hul hande in die lug geswaai ter viering van hul rugbyster wat teruggekeer het ná die Junior Springbokke se oorwinning teen hul aartsvyande Nieu-Seeland in die Wêreldrugby-onder-20-kampioenskap in Italië. Cupido het in ‘n ware heldeontvangs, wat deur gemeenskapslede gereël is, saam met van sy geliefdes op ‘n voertuig bedek met foto’s deur die strate gery sodat hy die liefde van sy ondersteunende gemeenskapslede kon ervaar. Dié rugbysensasie is van die Blue Rock-oord na buite die polisiekantoor geneem, waar ‘n kort seremonie plaasgevind het waartydens gemeenskapslede die geleentheid gehad het om met die inspirerende ster kennis te maak. Foto’s: Jamey Gordon
Talle opgewonde gemeenskapslede het om die rugbyheld saamgedrom om selfies saam met hom te neem.
Cupido is vereer met proteas, ‘n rugbytrui en ‘n boek oor Sir Lowry’s Pass – wat sy diep wortels in die gemeenskap simboliseer.
Fritz Visser, die president van Sir Lowrians RFC, het Cupido met hartlike woorde van bemoediging verwelkom.
Bo is Cupido saam met sy geliefde familielede. Van link is sy ma, Zelna, sy susters Edith Etson en Gaynor Welman, en sy pa, Gordon.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article