’n 61-jarige inwoner van Heldervue het onlangs weer ’n roete op die bekende Camino voltooi.

Johan van der Hoven het van Maandag 2 Mei tot Vrydag 3 Junie van Irun in Spanje tot in Santiago gestap. Dit staan bekend as die Camino del Norte. Op Maandag 6 Junie takel hy toe vir drie dae die roete van Santiago na Finisterre en op Saterdag 11 en Sondag 12 Junie loop hy al die pad tot in Muxia wat ook bekend staan as die Camino de Fisterra.

“Die Camino Fisterra en Fisterra tot Muxia is kort roetes, wat mense meestal aanvullend stap na die lang Camino’s. Ek het dit maar gedoen omdat dit so ver is om Spanje toe te reis,” sê Van der Hoven.

Hy vertel die Camino word sedert 812 n.C. gestap en in daardie dae het die mense van hul huis gestap na Santiago omdat dit glo is waar die oorskot van die apostel Jakobus begrawe lê.

“Histories was dit ’n godsdienstige tog, maar hedendaags word dit gestap vir redes soos selfrefleksie, selfontdekking, vir die uitdaging, of om net weg te breek van modern, gejaagde roetines. Wat nog steeds geld, is dat ’n mens al die materiële besittings dra wat jy nodig mag hê vir die reis wat voorlê.”

Hy kon dus nie “nee” sê toe die Camino hom vanjaar weer teruggeroep het nie.

“Die Camino del Norte was my vierde Camino na my Portugese, Primitivo, en Franse roetes.”

In 2016 het Johan die Portugese Camino aangedurf. In 2017 durf hy die Camino Primitivo aan wat strek van Oviedo tot Santiago en dis ook die oudste roete. In 2019 takel hy die bekendste en langste roete van die Camino Frances wat strek van St. Jean Pied-de-Port in Frankryk tot Santiago.

“Vanjaar het my roete begin in Irun, ’n Spaanse dorpie wat lepel lê in die Franse Suidkus. My bestemming was Santiago, amptelik 850 km ver. Ek het van Santiago verder Wes gestap na Finisterre en toe Noord na Muxia. Die totale afstand wat ek afgelê het, was, na-ure en ompaaie ingesluit, net meer as 1 200 km, met daaglikse afstande van tussen 25 en 35 km.”

Hy vertel die natuurskoon en die afwisselende tonele wat insluit pragtige strande, skilderagtige dorpies, en woude met ’n verskeidenheid van plantegroei is onbeskryflik.

“Dit het gevoel asof ek deur ’n prentjie-boek stap. ’n Mens ervaar ook dat met die uiterlike Camino, jy later ’n parallelle Camino binne jouself begin stap – uitdagings raak van fisiek af eers sielkundig en dan geestelik.”

Hy vertel die verblyf is in die vorm van eenvoudige, dog netjiese albergues (herberge) waar ’n mens slaapplek met ander pelgrims deel, en almal respekteer mekaar.

“Ek het ook in ’n klooster geslaap wat in 952 n.C. gebou is. Alle albergues het kombuise waar mede-pelgrims van reg oor die wêreld ’n hond uit ’n bos kuier. Ek kon wel eendag nie slaapplek vind nie, en moes toe noodgedwonge na 65 km op ’n bankie slaap – terugskouend was dit ook ’n goeie ondervinding,” onthou hy.

Van der Hoven vertel ’n hoogtepunt van die Camino is die mense wat jy ontmoet.

“Die beste vriendskappe word gesmee in vreemde tale met vreemde mense, rondom kos en wyn – status, besittings, titels of pretensie bestaan nie. En dan op ’n dag verskyn die Santiago- katedraal voor jou, en is die tog te gou agter jou. Ewe skielik verander ’n mens teensinnig van ’n pelgrim na ’n toeris, maar die herinneringe is blywende skatte,” sluit hy af.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article