Die Macasssar-gemeenskap, en in besonders die plaaslike Calvyn Protestantse Kerk, neem met diepe leedwese afskeid van ’n merkwaardige vrou.
Marie Paulse (79) is vroeg verlede Maandagoggend (2 Oktober) onverwags by haar huis in Soekmekaarstraat, Macassar oorlede. Gemeentelede van dié kerk was verslae nadat die nuus van haar heengaan bekend geword het, juis omdat sy nog die Sondagoggenddiens bygewoon het en haar sprankelende self was.
“Auntie Marie”, soos sy alombekend was, was intens betrokke by die stigting van die plaaslike gemeente in 1973. Sy het die afgelope vyftig jaar ’n enorme rol gespeel ten opsigte van die vooruitgang van dié gemeente. Paulse was ’n toonaangewende figuur in alle organisasies waar sy betrokke was. As toegewyde lid van die kerk se vrouevereniging word sy onthou as ’n hardwerkende vrou wat in die werk van die Here uitgestaan het. Talle lidmate onthou haar as iemand wat ’n reuse-invloed op almal met wie sy in aanraking was, gehad het. Jenny Cupido, ’n jare lange vriendin en medelid van die Calvynse Kerk se Vrouevereniging onthou haar as iemand wat baie lief was vir mense – veral kinders. Sy het gesê hulle het nog die vorige oggend voor kerk heerlike pret gehad. “Dit was waarskynlik haar groet aan ons,” sê Cupido.
Paulse, ’n boorling van Stellenbosch, was ’n afgetrede verpleegster, wat haar opleiding by Lentegeur-psigiatriese hospitaal ontvang het. Sy het daarna nog jare by Huis Marie Louw in Somerset-Wes gewerk en private verpleging voor haar aftrede gedoen.
Haar kinders onthou haar as ’n mense-mens. Haar dogter Catherine Lennard vertel sy is as die verpleegster in hul straat beskou en het telkemale as vroedvrou opgetree. “Sy’t selfs slagoffers van bendegeweld in haar buurt verpleeg,” vertel Catherine. Sy word met mooi herinneringe onthou deur haar kinders asook die gemeenskap van Macassar.
Paulse word oorleef deur vier dogters, drie seuns asook talle kleinkinders en agterkleinkinders.
Begrafnisreëlings:
- Roudiens – Woensdag 11 Oktober om 19:00, Calvyn Protestantse Kerk, Macassar.
- Begrafnisdiens – Saterdag 14 Oktober om 09:00, Calvyn Protestantse Kerk, Macassar.
- Bel Catherine Lennard by 067 265 6462 vir nog besonderhede.



