In die jare sewentig was daar ’n bekende leuse vir ’n motoradvertensie: Braaivleis, rugby, sunny skies and Chevrolet!
Maar draai die klok 40 jaar vorentoe en hierdie leuse kan eerder lui: Sonskyn, spiere, sushi en Suzuki – omdat hierdie motorhandelsmerk besig is om op alle vlakke van krag tot krag te gaan.
Suzuki het in Januarie vanjaar die eerste keer in sy bestaan meer voertuie as Volkswagen Suid-Afrika verkoop.
Toyota en Volkswagen was dekades lank die tradisionele strydrosse boaan die verkopeleer vir gesinsvoertuie in Suid-Afrika.
Die Japannese vervaardiger van klein buksies, Suzuki, het egter sedert die covidpandemie stelselmatig teen die ranglys uitgeklouter. Voorverlede jaar nog was hy skaars in die topvyf, maar van 2023 se tweede kwartaal het hy al hoe harder aan die topdrie se deur geklop.
Toyota SA het in Januarie 6 500 gesinsmotors in Suid-Afrika verkoop, gevolg deur Suzuki met 5 019. Volkswagen was in die derde plek.
Suzuki se ster-verkoper was sy Swift (1 566 verkope), ’n kompakte luikrug wat met die Polo Vivo (2 034) meeding. In die geheel gesien, was dit egter tot Suzuki se voordeel dat sy hele vloot voertuie almal sakpasmodelle is. Hierteenoor is dit net die Polo Vivo in die Volkswagen-stal wat ’n waarde-vir-geld-aanbod is. Die res van sy modelle is almal veel duurder.
Suzuki se goedkoopste model is die Celerio (R188 900). Trouens, die meeste van sy modelle verhandel in die bekostigbare band tussen R200 000 en R350 000. Talle van hierdie modelle word direk uit Indië ingevoer, waar die vervaardigingskoste veel laer is as dié van Europese fabrieke van waar Volkswagen sy motors invoer.
Volkswagen se sportnutse is grootliks buite die bereik van die middelklas, met Suzuki wat daardie ruimte van bekostigbaarheid nou ingeneem het.
Suzuki staan ook vanjaar uit op die finalistelys van die gesogte Old Mutual Insure- 2024- Motor van die Jaar (COTY)-kompetisie, wat pas aangekondig is en deur die Suid-Afrikaanse Gilde van Mobiliteitsjoernaliste (SAGMJ) aangebied word.
Suzuki is ’n finalis in die Budget- en Compact-afdeling met sy Suzuki Fronx, en in die Compact Family-afdeling met die Suzuki Grand Vitara.
En verlede week het Suid-Afrika se mees geliefde motorplatform Cars.co.za die 13 afdelingswenners van die 2023-’24- Cars.co.za-verbruikerstoekennings aangekondig, en hiér het Suzuki sy spiere behoorlik gebult, met talle toekennings:
Suzuki CarsAwards-trofee-ontvangers:. Intree-luikrug: Suzuki Swift 1.2 GLX en naaswenners: Suzuki Celerio . Begrotingsluikrug: Suzuki Baleno 1.5 GLX. Intreevlak-nutsmotor: Suzuki Grand Vitara 1.5 GLX.
Suzuki is ook die naaswenner van die jaar saam met BMW en Mini. Suzuki saam met net BMW het die meeste afdelingsoorwinnings in die 2023-’24- #CarsAwards behaal. BMW het die tweede meeste in #CarsAwards-geskiedenis (12), gevolg deur Toyota (11) en Suzuki (10).
Suzuki het die begrotingsafdeling die vyfde keer uit sewe herhalings van die #CarsAwards-program gewen. Die Baleno 1.5 GLX het sy voorganger se nederlaag in 2020-’21 teen die Toyota Starlet 1.4 XR gewreek, terwyl ’n Swift-weergawe (die 1.2 GLX) ’n tweede agtereenvolgende keer die Intreevlak-luikrug-trofee gewen het. ’n Swift-weergawe het vier #CarsAwards-afdelings gewen.
Deur agtereenvolgens die Handelsmerk van die Jaar te wen, lei Toyota nou die algehele #CarsAwards- Handelsmerk van die Jaar-oorwinnings met vier trofeë, gevolg deur Suzuki (twee) en Volkswagen (een).




