Naima Cornelius se ouma en ma, Cynthia en Celeste Esau op die toneel waar hul geliefde kind onder ’n voertuig wat haar buite hul tuiste getref het, vasgepen was en met hulp van die gemeenskap bevry is. Die voorval het verlede Woensdagaand (27 April) in Seemeeustraat, Macassar, plaasgevind en die 13-jarige ongelukslagoffer is later in die hospitaal oorlede.Foto: Rick Marais


Gemeenskapslede in Macassar moes aan die einde van Vryheidsdag kragte saamspan om ’n motor te lig waaronder ’n geliefde tienermeisie met ’n blink toekoms beland het.

Dertienjarige Naima Cornelius se lewe is tragies kortgeknip nadat sy deur ’n motor getref is en onder die swart luikrug beland het. Die jongeling van die plaaslike Riverside-gemeenskap het aan beserings in die hospitaal beswyk.

Naima se voog, Tania Cornelius, het vertel die slagoffer het na haar ouma se tuiste oorkant die pad in Seemeeustraat geloop het toe sy raakgery is. Naima het glo net die huis verlaat om haar skoolklere vir die volgende dag gereed te gaan kry, toe Cornelius ’n harde slag gehoor het. Met ondersoek het Cornelius ’n skare buite sien saamdrom. Sy het aanvanklik nie gedink dat dit enigiets met Naima te doen het nie, maar toe mense na haar begin uitroep, het sy geweet iets is fout en oomblikke later agtergekom dat die kind wat sy elke dag vir die afgelope twee jaar met liefde versorg het, ’n ongelukslagoffer geword het.

“Ek het op die motor se enjinkap geslaan en vir die bestuurder geskree om die voertuig te skuif, want Naima lê daaronder. Dis toe dat ’n groep mense almal nader gestaan het. Saam het hulle daarin geslaag om die kar op te lig en Naima te bevry,” het Cornelius herroep.

Sersant Desire Adendolf, woordvoerder vir die Macassar-polisie, het gesê polisielede het omstreeks 19:30 op die voorval reageer. Adendolf het bevestig die swart Volkswagen Golf wat bo-op Naima tot stilstand gekom het, ook die heining voor haar grootmoeder se tuiste deurboor en teen ’n struktuur langsaan die huis gebots het.

Die bestuurder, ’n 58-jarige-man wie ook ’n inwoner van Macassar is, is op die toneel aangekeer en op aanklagte van strafbare manslag in hegtenis geneem. Daar was geen ander persone in die voertuig gewees nie. Die verdagte het gister (Dinsdag 3 Mei) in die Somerset-Wes-landdroshof verskyn. Die uitslag van die hofverskyning was teen druktyd steeds onbekend.

Nadat Naima kort ná die voorval deur paramedici per ambulans na ’n plaaslike hospitaal vervoer is, het Cornelius die mediese fasiliteit opgebel om uit te vind hoe dit met haar gaan.

“Hulle het aan my meegedeel daar word vermoed Naima het weens die voorval breinskade opgedoen asook geen pols gehad het nie. Ek is sowat 20 minute teruggebel en deur ’n dokter ingelig dat Naima afgesterf het.”

Cornelius het Naima beskryf as ’n goeie kind met ’n voorbeeldige persoonlikheid en goue hart. “Sy was slim en het akademies goed gedoen op skool,” het sy gesê.

Voorts het sy gesê sy sal Naima onthou as ’n besondere jongmens met die bewonderenswaardige eienskap van nooit lelik te wees teenoor haar medemens nie.

Nadat die nuus van Naima se tragiese verlies op ’n nog meer tragiese wyse aanlyn gedeel is, het medelye van elke hoek en oord in die Helderberg ingestroom. Macassar Primêr het in ’n inskrywing op hul Facebook-blad namens die skoolgemeenskap hul simpatie uitgespreek. “Ons harte gaan uit aan die familie in die moeilike tyd. Mag God haar siel seën en vir haar rus gee. Mag God se liefde julle vertroos en versterk gedurende die tydperk,” het die inskrywing gelees. Die skool het beraders beskikbaar gestel vir onderwysers en leerlinge wat vir Naima geken het, en wat hul emosies weens die verlies wil verwerk.

’n Begrafnisdiens vir Naima word vir Saterdag 7 Mei gereël.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article