Die Hoërskool Strand se eerste krieketspan het uitstekend gevaar in die KFC Krieketfees in Mosselbaai.
Dit was die skool se vierde deelname sedert die ontstaan van die fees in 2012 en hierdie jaar sal as ’n besondere hoogtepunt in die skool se krieketannale onthou word.
Strand het daarin geslaag om al drie hulle voldagwedstryde te wen en het slegs die verkorte weergawe van die spel, die 20/20-wedstryd, teen Hoërskool Nico Malan van Humansdorp verloor.
In die eerste wedstryd, wat deur
reën ontwrig is, het Strand met Wynberg, ’n krieketkrag in Suid-Afrika, se tweede span afgereken. Die Strand het hierdie wedstryd met 4 paaltjies gewen.
Wynberg het eerste gekolf en is vir 78 lopies uitgehaal. Wiehann Meyer met 3 paaltjies vir 7 lopies en Rewayne Viljoen met 3 paaltjies vir 13 lopies het die grootste skade aangerig. Daarna het Keenan Beckett met 33 lopies die weg vir ’n welverdiende oorwinning gebaan.
In die tweede wedstryd het Strand met die Hoërskool DF Malan afgereken en wel met 5 paaltjies. DF Malan is vir 130 lopies uitgehaal. Johann Laubscher het met 3 paaltjies vir 29 lopies uitgeblink. Daarna het Eddie Russouw met ’n baie geduldige 33 lopies en Wiehann Meyer met ’n baie aanvallende 29 lopies die weg vir ’n goeie oorwinning gebaan.
Rudi Koertzen,’n gewese toetsskeidsregter met 108 toetse agter sy naam, het hierdie wedstryd as een van die aangenaamstes van sy loopbaan beskou – ’n besondere kompliment vir die skool.
In die laaste wedstryd het Strand die hoogaangeskrewe Oakdale Landbouskool met 8 paaltjies geklop. Oakdale is vir slegs 46 lopies uitgehaal. Wiehann Meyer het weer eens geskitter en 2 paaltjies vir 2 lopies laat kantel. Christopher Bodenstein het ongetwyfeld vir die hoogtepunt van die toer gesorg deur 6 paaltjies vir 6 lopies na 7 boulbeurte te laat kantel.


