Amira Willighagen bederf die gehoor met die mooiste geskenke – die geskenk van liefde, die geskenk van musiek, die geskenk van reis, die geskenk van al die herinneringe wat musiek bring en ja, natuurlik ook die geskenk van Kersfees! Haar konsert Cadeautjes (geskenke) is Sondag 1 Desember om 16:00 by Helderberg Teatro in Somerset-Wes te sien. Hierdie weldeurdagte, keurig saamgestelde musieksamestelling is net so opwindend en verrassend soos die ontvangs en oopmaak van ’n hoop geskenke en elkeen in die gehoor sal stil-tevrede glimlag as hulle gunstelinge tussen al die bekende melodieë uit musikale blyspele, operettes, bekende gunstelinge, ’n tikkie opera en die mooiste en bekendste Kersmusiek gehoor word. Mense kan vir die eerste keer op die verhoog van die plaaslike teater by Doxa Deo in die Melcksloot Village-winkelsentrum werklik uitsien na ’n oorvloed geskenke as hierdie uiters talentvolle, Holland’s Got Talent-wenner (toe sy net nege jaar oud was) die gehoor meevoer met haar artistieke briljansie en sprankelende menswees. Elke lid in die gehoor sal soos ’n tevrede kind op Kersdag met ’n gunsteling-geskenk in die hart huis toe gaan.


You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article