Deidre de Villiers is na ’n lang soektog met haar geliefde Missy herenig.Foto:


’n Wonderwerk het Dinsdag (10 Januarie) gebeur toe ’n vrou van Strand met haar nege en ’n half week oue hond, Missy, herenig is. Maar kort ná die goeie nuus van haar veiligheid die rondte gedoen het, is daar bevestig dat die hondjie parvovirus (katgriep) opgedoen het en vir behandeling in die hospitaal opgeneem is.

Vanoggend (Donderdag 12 Januarie), het Deidre de Villiers op sosiale media gedeel dat Missy dood is. Haar inskrywing het slegs “Loved, forever plus a day…” gelui. Daar is ook ’n foto van die hondjie en die woorde, “May angels fly with you wherever you roam,” bygevoeg.

DistriksPos & Helderberg Gazette het vanoggend vir De Villiers vir kommentaar genader, maar sy kon teen publikasie van dié artikel nie bereik word nie.

Die uitgebreide soektog na Missy, die reddingspoging en die feit dat sy weer met haar gesin voor haar dood herenig is, is wat meeste Helderbergers gaan onthou.

Op Nuwejaarsdag (Sondag 1 Januarie) het De Villiers agtergekom dat die gesin se agt weke oue Italiaanse Greyhound weg is. “Sy het ’n rooi Lindt-sjokolade lint aan. Sy sou nie self ons eiendom verlaat het nie; iemand moes haar onder deur die hek gesleep het. Missy (Mistletoe) was my dogter se geskenk gewees,” het die openings paragraaf van die vermiste pamflet wat wyd op sosiale media gedeel is gelees.

Suzanne Mostert, ’n inspekteur van die Glen Graze Animal Rescue Sanctuary in Somerset-Wes, het die afgelope Dinsdag ’n siek hond na die Mdzananda-dierekliniek in Khayelitisha geneem, toe sy sien ’n vrou oorkant haar met ’n hond, wat nes die vermiste hond op Facebook lyk, in haar arms sit.

“Ek het opgekyk en dadelik opgemerk dat dit Missy is. Ek het vir die personeel by Mdzananda-dierekliniek ingelig dat dit Missy is. Hulle het toe die eienaar van die hond gekontak,” het Mostert gesê.

Sy het aan DistriksPos & Helderberg Gazette meegedeel, dat sy die vorige dag self na Missy begin soek het, toe sy twee areas waar die hond glo gewaar is, besoek het. Maar haar soektog was onverpoos.

“Hier sit en wag ek met ’n ander hond vir ’n afspraak by Mdzananda en ek sien vir Missy raak. Die vrou wat haar drie dae vantevore opgetel het, was onbewus dat sy ’n vermiste hond is en het na haar as ‘my hondjie’ verwys. Min het sy geweet dat Missy vermis is. Op daardie stadium was Missy papperig en dis juis waarom die vrou haar na die dierekliniek geneem het,” het Mostert vertel.

’n Verheugde De Villiers het Woensdag aan DistriksPos en Helderberg Gazette gesê: “Dit is baie belangrik om te onthou dat ons Missy te danke aan die publiek en die sosiale media-plasings gevind het. Woorde kan nooit beskryf hoe ek gevoel het toe ek met Missy herenig is. Ons is so paar keer deur mense mislei en ons het so paar keer wenke van waar sy is gekry, maar niks het ooit gerealiseer nie en ons kon net nie vir Missy kry nie. Dit het werklik ’n gemeenskap gevat om vir Missy te vind.”

Sy het spesiaal vir die werkers van die Glen Graze Animal Rescue Sanctuary en die Mdzananda-dierekliniek bedank, vir hulle rol in Missy se hereniging met haar gesin. Sy is kort ná die hereniging by ’n plaaslike dierehospitaal opgeneem, waar sy teen die virus geveg het.

Volgens Mostert versprei parvovirus baie vinnig. “Dit ontwater diere baie vinnig en hulle verloor vinnig gewig, soos in Missy se geval. In baie van die gevalle tas parvovirus hul harte ook aan,” het sy verduidelik.

Suzanne Moster saam met Deirdre de Villiers en Mis

Suzanne Mostert saam met Deirdre de Villiers en Missy ná hul hereniging.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article