Die afgelope naweek moes die eienaar, haar dogter en ondersteuners van die familie ’n bitter pil sluk toe hulle vir oulaas eer betoon het aan ’n geliefde hond wat eers gesteel, toe gevind en eindelik aan katgriep dood is.
Deidre de Villiers en haar dogter Anaya het Missy, ’n Italiaanse windhond, Sondag (15 Januarie) by Timeless Cafe in Strand saam met ’n groep ondersteuners en verteenwoordigers van dierereddingsorganisasies gegroet.
Missy is Donderdag (12 Januarie) dood. Die nege weke oue hondjie is kort tevore met haar eienaars herenig nadat sy sedert Sondag 1 Januarie vermis is.
Die hartseer nuus van Missy se dood is verlede Donderdag in ’n sosiale media-inskrywing deur Deidre met die gemeenskap gedeel. Dit het aan die hartsnare van die Helderbergkom se diereliefhebbers getrek.
Haar inskrywing het slegs “Loved, forever plus a day . . .” gelui. ’n Foto van die hondjie en die woorde “May angels fly with you wherever you roam” is by die inskrywing gevoeg.
Dis egter die uitgebreide soektog na Missy, die reddingspoging en die feit dat sy voor haar dood weer met haar gesin herenig is, wat die meeste Helderbergers gaan onthou.
vrou tel hond glo in Khayelitsha op
De Villiers het op Nuwejaarsdag agtergekom die gesin se agt weke oue hondjie is weg en het onmiddellik na sosiale media gehaas om die hond se verdwyning met ander te deel.
“Sy het ’n rooi Lindt-sjokolade-lint aan. Sy sou nie self ons eiendom verlaat het nie; iemand moes haar onderdeur die hek gesleep het. Missy (Mistletoe) was ’n geskenk aan my dogter,” het die openingsparagraaf van die pamflet oor die vermiste hond, wat wyd op sosiale media gedeel is, gelui.
Daarna het die gemeenskap ingespring en na Missy begin soek. Die pamflet is daagliks wyd en syd op Facebook gedeel en Deidre het ’n kontant beloning vir inligting wat tot die familie se hereniging met die hondjie sou lei, aangebied.
Suzanne Mostert, ’n inspekteur van die Glen Graze Animal Rescue Sanctuary in Somerset-Wes, het verlede Dinsdag ’n siek hond na die Mdzananda-dierekliniek in Khayelitsha geneem toe sy ’n vrou oorkant haar met ’n hond, wat nes die vermiste hond op Facebook lyk, in haar arms sien sit.
“Ek het opgekyk en dadelik gesien dit is Missy. Ek het die personeel by Mdzananda-dierekliniek ingelig dat dit Missy is. Hulle het toe die eienaar van die hond gekontak,” het Mostert gesê.
Heidi May, ’n bestuurder by die Mdzananda-dierekliniek, het gesê dit was ’n besige dag toe Mostert haar inlig dat die vermiste Missy hier voor haar deur ’n vrou vasgehou word.
“Ons moes eers doodseker maak. Ons moes eers foto’s op Facebook bekyk en doodseker maak dat dit wel Missy is, voordat ons die eienaar geskakel het. Ons het Deidre toe gebel,” het May vertel.
Mostert het aan DistriksPos & Helderberg Gazette gesê sy het die vorige dag self na Missy begin soek toe sy twee plekke waar die hond glo gewaar is, besoek het. Maar haar soektog was tevergeefs.
“Hier sit en wag ek met ’n ander hond vir ’n afspraak by Mdzananda en ek sien Missy raak. Die vrou, wat haar drie dae vantevore opgetel het, was onbewus dat sy ’n vermiste hond is en het na haar as ‘my hondjie’ verwys. Min het sy geweet dat Missy vermis is.
Die oomblik van blydskap, toe Deidre met Missy herenig is, is op video en foto’s vasgevang. Dit is weer eens op sosiale media platforms gedeel, met gebruikers wat hul vreugde oor die redding en hereniging uitgespreek het.
“In daardie stadium was Missy reeds papperig, en dis juis waarom die vrou haar na die dierekliniek geneem het,” het Mostert vertel.
Sy is net daarna met katgriep gediagnoseer en is by ’n plaaslike dierehospitaal vir behandeling opgeneem. Facebook-gebruikers is gevra om Missy in hul gebede te hou, maar Deidre het vroeg die volgende oggend die nuus oor haar dood gedeel.
De Villiers het verlede Woensdag (11 Januarie) die Glen Graze Animal Rescue Sanctuary sowel as die Mdzananda-dierekliniek bedank en verteenwoordigers van albei organisasies na die laaste eerbetoning aan Missy genooi.
gesteel, gekry, toe dood aan katgriep
May is van mening dat Missy se storie anders kon uitdraai as sy nie gesteel is nie.
“Om ’n hond te steel, is soos om iemand se kind te steel. Ons moet mense inlig dat hulle honde op ander meniere kan kry. As jy nie geld het vir ’n hond nie, beteken dit nie dat jy een moet steel nie,” het sy gesê.
“Jy kan steeds ’n hond kry, al het jy nie geld om een te koop nie – solank jy in staat is om na die dier om te sien. Dis ’n stigma wat ons moet verander.”
Die parvovirus (katgriep) wat Missy iewers opgedoen het, het volgens May haar iewers ver van haar huis besmet juis omdat die eienaars haar vandeesweek vir haar derde parvovirus-inenting sou neem.
Volgens Mostert versprei die parvovirus baie vinnig. “Dit ontwater diere baie vinnig en hulle verloor vinnig gewig, soos in Missy se geval. In baie van die gevalle tas die parvovirus hul hart ook aan,” het sy verduidelik.
Tydens die naweek se samekoms om Missy een laaste keer te groet, het Deidre haar dank aan die gemeenskap, wat onmiddellik ingespring het om Missy te vind, uitgespreek.
“Ons groet Missy vandag, maar dis baie belangrik om te onthou dat ons haar danksy die publiek en sosiale media opgespoor het,” het sy gesê. “Woorde kan nooit beskryf hoe ek gevoel het toe ek en my dogter met Missy herenig is nie. Ons weet sy is dood met mense wat vir haar omgegee het, om haar, eerder as om iewers in ’n straat te lê en so dood te gaan.”.
Deidre het Missy vereer deur blomme op die see te strooi met die wete dat sy ten tyde van haar dood baie geliefd was.



