Misnoeë uitgespreek oor polisiekantoor se toeganklikheid vir mense in rolstoele

Chris Booysen (49) van Erijaville sukkel nie om die ingang by die Strand-polisiekantoor te kry nie, maar hy was geskok om te sien dat die kantoor se gemeenskapsentrum se sydeur-ingang nie geskik is vir rolstoel-gebruikers nie. Foto: Rick Marais


Een van ’n polisiekantoor se eienskappe moet wees om toeganklik te wees vir die publiek, maar soms word die lewe van iemand wat byvoorbeeld ’n rolstoel gebruik by polisiekantore bemoeilik.

Die Strand-polisie se gemeenskapsdienssentrum in die hartjie van die polisiekantoor is nie oral toeganklik vir mense in rolstoele nie.

’n Sydeur by die sentrum het ’n ingang met die woord disable, maar dis trappe en glad nie toeganklik vir iemand in ’n rolstoel nie.

Chris Booysen, ’n 49-jarige inwoner van Erijaville, was onlangs by die polisiekantoor en, hoewel hy tevrede was met die hoofingang van die sentrum, was hy “geskok” om te sien een van die sy-ingange kan glad nie deur iemand in ’n rolstoel gebruik word nie, maar tog word aandui dit is geskik vir “gestremdes”.

“My hande is gereeld moeg van die rolstoel stoot; dis harde werk. Dis altyd lekker om by ’n plek te kom met ramps waar ’n mens met ’n rolstoel toegang kan kry, maar die sydeur is gewis nie rolstoel-‘vriendelik’ nie,” kla Booysen.

Hy het tydens ’n foto-sessie langs die trappe in sy rolstoel gesit en dit was duidelik sigbaar dat hy nie (sonder die hulp van ander) met sy rolstoel by daardie sydeur sou kon inkom nie.

Niklaas Thysen, ’n bekende in die gemeenskap en wat tans in die United Action Group se portefeulje vir veiligheid en sekuriteit dien, het onlangs ná ’n vergadering by die polisiekantoor besef die plek is glad nie rolstoelvriendelik nie.

Thysen het sy misnoeë met die situasie aan die stasiebevelvoerder geopper.

Booysen se lewe het so vyf maande gelede onherroeplik verander toe hy in ’n ongeluk betrokke was en albei sy bene gebreek het. Hy moes ’n klomp penne in sy een been kry.

“Ek kom nou agter hoe moeilik dit is om in ’n rolstoel rond te beweeg. Die kantoor is binne die gebou (en by die voordeur) maklik toegangbaar vir ’n rolstoel, maar die sydeur is nie,” verduidelik Booysen.

Volgens adjudant-offisier Nico Beukes, ’n woordvoerder van die Strand-polisie, is die deur wat aandui dat dit rolstoel-vriendelik is, maar nie is nie, eintlik die sentrum se voorste ingang.

“Ons gaan die naamborde by die stasie verander sodat kliënte die tweede ingang kan gebruik. Openbare werke het reeds ’n oprit by die tweede deur aangebring. Die huidige ligging van daardie trap, wat ’n meer toeganklike ingang vir gestremdes sou wees, is nie deur openbare werke aanbeveel nie,” sê Beukes.

Hy sê die tweede ingang is ook veiliger omdat dit ’n beheerde veiligheidshek het.

“Ek het ’n beroep op die bestuur van die Strand-polisiekantoor gedoen om seker te maak die stasie is geskik vir mense met gestremdhede wat rolstoele gebruik. Ek het ook versoek dat hulle vir my en die United Action Group op hoogte hou van hul vordering met die probleem by die stasie,” voeg Thysen by.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article