 ’n 32-jarige verdagte is deur die Strand-polisie op aanklagte van die besit van dwelms, ‘n gevaarlike wapen en verset teen inhegtenisneming aangekeer. Die voorval het op Vrydag 21 Maart plaasgevind en is op video opgeneem en op sosiale media versprei. Volgens AO Nico Beukes, ‘n woordvoerder van die Strand-polisie, het die voorval tydens ‘n stop-en-deursoek-optrede in Broadlandsweg plaasgevind. Die verdagte is deur beamptes voorgekeer, maar het voet in die wind geslaan. Hulle het hom egter agtervolg en spoedig aangekeer. Terwyl die verdagte probeer loskom het, het gemeenskapslede glo die beamptes en polisievoertuie met klippe gegooi. Dit het veroorsaak dat die beamptes drie waarskuwingskote afgevuur het in ‘n poging om die skare uiteen te jaag. Die 32-jarige het op Maandag 24 Maart in die Strand-landdroshof verskyn.

 Die polisie het ‘n verdagte in hegtenis geneem weens ‘n moord wat in Januarie 2023 in Macassar plaasgevind het. Volgens die provinsiale polisiewoordvoerder AO Joseph Swartbooi is die 32-jarige verdagte op Vrydag 21 Maart deur die polisie by ‘n plaas in Kromme Rhee, Stellenbosch, aangekeer. Dit was nadat ‘n huis in Kloofstraat in Cloetesville deursoek is, waar die polisie nie die verdagte kon kry nie. Die verdagte is ook in hegtenis geneem vir ‘n poging-tot-moord-saak wat dieselfde maand in Bellville plaasgevind het. Die 32-jarige sou op Woensdag 26 Maart op ‘n aanklag van moord in die Strand-landdroshof verskyn.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article