Voetgangers in Strand en Somerset-Wes word gewaarsku om paraat te wees nadat twee verdagtes onlangs vasgetrek is kort nadat hulle glo ’n vrou se handsak van haar af geruk en weggejaag het.
Volgens Philip Versfeld van die Strand-buurtwag het die voorval Sondagoggend (19 Februarie) omstreeks 11:30 plaasgevind. “ ’n Vrou was van die winkels onder in die dorp af op pad huis toe toe ’n voertuig skielik langs haar stilgehou het. ’n Onbekende man het uitgeklim en haar handsak, wat om haar nek gehang het, probeer afruk,” sê Versfeld.
’n Struweling het ontstaan en die vrou is meters langs die voertuig gesleep terwyl sy aan haar handsak vasgeklou het. “Sy het die houvas op haar handsak verloor en die voertuig het weggejaag. Inwoners in die omgewing het die vrou om hulp hoor skree en haar te hulp gesnel en gekalmeer. Iemand het terselfdertyd die 24-uur-noodnommer geskakel. Ons is bly die vrou het geen ernstige beserings opgedoen nie.”
Een van Gordon’s Bay Security (GBSec) se voertuie is na die toneel en het verdere inligting bekom. “Die inligting is op buurtwagte en veiligheidsmaatskappye se radiokanaal uitgesaai en almal is ingelig om op die uitkyk vir die voertuig waarin die verdagtes was te wees. Lede van die Strand-buurtwag, GBSec en Secure Rite Secity het die gebied begin fynkam.”
Die voertuig is omstreeks 14:15 – sowat drie ure ná die voorval – in Gants Plaza gewaar.
“Die voertuig se nommerplaat en beskrywing en die verdagtes se kleredrag is positief uitgeken en nog beamptes is na die omgewing gestuur om die verdagtes vas te trek. Toe die verdagtes een van ons beamptes op sy tweerigtingradio gewaar, het hulle besef die einde is naby en in die rigting van die N2 gevlug. Die een verdagte het by die Victoriastraat-aansluiting besluit genoeg is genoeg en te voet die nabye woonbuurt in gevlug terwyl die ander verdagte in voertuig in Victoriastraat in die rigting van Somerset-Wes se sentrale sakekern gejaag het.”
Van die Strand-buurtwag en GBSec se lede is agter die voortvlugtige die buurt in en ander is agter die verdagtes se voertuig aan.
“Ongelukkig vir die verdagtes was polisiebeamptes van die Somerset-Wes-polisie toevallig daar met roetineondersoeke besig en hulle het gehelp om die voertuig voor te keer.”
Die twee verdagtes is vasgetrek en met ’n nagemaakte vuurwapen asook die vrou wat beroof is, se bankkaarte en ander besittings betrap. Die polisie het hulle op die toneel in hegtenis geneem. . ’n Onverwante soortgelyke voorval het aan die einde van Januarie plaasgevind. Die slagoffer sê die misdadigers het dieselfde modus operandigebruik. In dié geval het die verdagtes in ’n silwer Hyundai Getz gery. Die slagoffer, wat verkies om anoniem te bly, is in Januarie helder oordag in haar motor oorval terwyl sy stilgehou het om ’n WhatsApp-boodskap aan iemand te stuur. Die vrou het sigbare verdedigingsmerke aan haar arms gehad. Sy het nie ’n klagte by die polisie aangemeld nie. Versfeld sê hy weet van vier voorvalle waarin ’n Hyundai Getz as wegkom-motor gebruik is en waarsku die publiek om paraat te wees.



