’n 35-jarige man is op Vrydag 21 Februarie deur die Strand-polisie in hegtenis geneem in verband met ’n beweerde verkragting wat in Strand plaasgevind het.

Luidens ’n polisieverslag het die beweerde misdaad omstreeks 05:00 op Valentynsdag (Vrydag 14 Februarie) by ’n woning in die Dark City-informele nedersetting, Casablanca, plaasgevind.

Die slagoffer, ’n 50-jarige vrou, is deur ’n vriend na die verdagte verwys om dwelms te bekom. ’n Bakleiery het glo uitgebreek nadat die slagoffer die verdagte om hulp genader en hy geweier het.

Die verdagte het haar glo met sy bendeverbintenis gedreig, haar oorweldig en toe glo verkrag. Ten spyte van haar desperate pogings om te ontsnap, was die slagoffer se verset tevergeefs.

“Die ondersoekbeampte het reeds met die klaer gekonsulteer weens die erns van die misdaad, wat as ’n skedule-6-oortreding geklassifiseer word,” het AO?Nico Beukes, ’n woordvoerder vir die Strand-polisie, gesê.

Die slagoffer het in ’n onderhoud met die koerant gesê sy is erg getraumatiseer weens die verkragting, maar kan dit duidelik onthou en is verward oor hoekom dit gebeur het.

“Hy het vir my gesê dat hy my mond sou oopsny, en ek het gedink dit gebeur net in flieks. Ek is hartseer, geskok en baie kwaad vir myself,” het sy gesê.

Volgens haar het die voorval by die verdagte se woning plaasgevind – iemand wat sy persoonlik goed ken en nooit sou verdink nie.

“As jy ’n gebruiker is, ontmoet jy baie mense. Jy sit in ’n hokkie en gesels; dis hoe ek hom vyf jaar gelede deur my kêrel leer ken het,” het sy gesê.

Sy het die saak die volgende dag (Saterdag 15 Februarie) met die steun van gemeenskapsleiers aangemeld. Sy is deur die polisie na Rape Crisis Helderberg geneem vir berading.

“Ek is nie bang dat ek ’n klagte aangemeld het nie, want as dit met 14-jarige kinders gebeur, kan hulle nie praat nie.”

Die verdagte het Maandag 24 Februarie vir die eerste keer in die Strand-landdroshof verskyn en het die afgelope Maandag (3 Maart) om borgtog aansoek gedoen.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article