Die onlangse vlaag misdaad – en veral skietvoorvalle – in Broadlandspark, Sercorpark en Rusthof het die publiek genoodsaak om te vra of die polisie hul werk reg doen terwyl die polisie daarop mik om in gemeenskappe meer sigbaar te wees.
’n Paar dae ná die voorval het inwoners aanhou kla dat die skote steeds klap.
Apostel Manfred Jumat, ’n gemeenskapsleier van Broadlandspark asook voorsitter van die Broadlandspark-buurtwag, sê dit is hartseer om week ná week in ’n gemeenskap te woon waar mense gedurig in geweld en misdaad sterf. “Almal weet wat die probleme is – die polisie weet; die gemeenskap weet. Die howe weet ook wat die probleme is, maar dit blyk niemand dink dis belangrik om ’n einde te bring aan die misdaad en geweld wat veral bende- en dwelmverwant is nie.”
“As die polisie nie opdaag nie, is dit ook weer ’n probleem. Ons werk hard om ’n veiligheidsnetwerk in die gemeenskap te vestig, maar dan kry ’n mens sekeres wat daardie harde werk vernietig en afbreek.”
“Daardie vuurwapens word saans huis toe geneem. Die vuurwapens word êrens gestoor. Baie meer mense is bewus daarvan. Hulle weet wie die draers van die vuurwapens is en wie die skieters is. Maar oënskynlik lyk dit of baie kies om nie dié inligting met die polisie en wetstoepassers te deel nie. Dis waarom misdaad oor en oor opvlam,” sê hy.
“Die Strand-polisie en verskeie veiligheidsmaatskappye asook die blitspatrollie en die honde-eenheid asook lede van ander polisiekantore in die distrik het aan die optrede deelgeneem waar lasbriewe uitgereik is en hulle na die ‘high flyers’ wat voorheen in ander misdade betrokke was, gesoek het.”
Niklaas Thysen, die woordvoerder van die Strand-gemeenskapspolisiëringsforum (GPF), het bevestig die GPF doen ook alles in sy vermoë om misdaad te bestry. “Ons is pal op soek na strategieë om al die organisasies te herenig om in die stryd teen misdaad saam te staan. Die GPF sal saam met wetstoepassers, die polisie en alle gemeenskap-sektore saamspan om seker te maak aandag word aan sektore wat deur gewelddadige misdade geraak word, gegee.”



