Die Somerset-Wes-polisie doen ’n beroep op die breë gemeenskap vir inligting wat kan help met ’n moordondersoek wat van stapel gestuur is nadat die lewelose liggaam van ’n man in die omgewing van die Heritagepark-woongebied gevind is.
Die polisiewoordvoerder sers. Suzan Jantjies het die gruvonds waarvoor polisiebeamptes om 07:14 Saterdag (18 Januarie) ontbied is, bevestig. Die liggaam van ’n jong man is in ’n oop veld op die hoek van Hazelden-rylaan en Ou Sir Lowry’s Pass-weg aangetref, het Jantjies aangekondig.
“Die liggaam was met ’n kombers toegemaak en het verskeie oop wonde aan die kop gehad,” het sy gesê. “ ’n Saak van moord word ondersoek en ooggetuies of enigiemand met inligting wat met die ondersoek kan help of tot ’n inhegtenisneming kan lei, word versoek om die Somerset-Wes-speurders by 021 850 1303 te kontak.”
Die oorledene is amptelik as Jason Warnick, ’n jongeling van Chris Nissen-park, uitgeken.
Sy ma, Jasmine (63), het die koerant meegedeel dat die familie in rou en smart gedompel is ná die verlies. “Ons worstel met soveel onbeantwoorde vrae, wat hopelik in die ondersoek beantwoord sal word,” het die bedroefde ouer gesê.
Volgens die ma van vier kinders, wat jare gelede reeds ’n dogter weens siekte aan die dood afgestaan het, het gemeenskapslede hulle Saterdagoggend vroeg die skokkende nuus oor hul geliefde seun wat wreed van die lewe ontneem is, meegedeel. Sy het haar 33-jarige seun, wat agter op die perseel woon, Donderdag 16 Januarie laatmiddag laas gesien toe hy by hulle aangekom het om iets te eet en televisie te kyk voordat hy glo by ’n vriend gaan kuier het.
“Ons het hom daarna nie weer gesien nie,” het sy aangevoer.
“Die verlies is nie lekker nie; dis seer en ek gaan alles van hom mis, want hy was my alles. Ek is lief vir al my kinders, maar hy het ’n spesiale plek in my hart gehad. Ja, hy was baie stout, maar ’n lieflike mens wat nooit moeilikheid gesoek het nie.”
Volgens die Chris Nissen-gemeenskapsaktivis Dinah Adams het die raaiselagtige moord van een van hul jongmense skokgolwe deur die gemeenskap gestuur. “Dit is ’n hartseer-storie dat ’n ma en pa van hul lieflingseun, wat nooit enigiemand leed sou aandoen nie, beroof is. Ons is hartseer en diep geskok.”
Warnick word oorleef deur sy ouers, twee sibbe, 44 en 36, en sy oorlede suster se tienerdogter.




