’n Man van Smartie Town in Macassar is sedert Saterdagoggend (18 Februarie) op vlug nadat hy na bewering sy vrou, hul dogter en nog ’n man met ’n mes bygekom het.
Nog ’n vrou wat betrokke was, is ongedeerd.
Volgens die Macassar-polisie het die voorval Saterdag om 09:30 in Japonicastraat by Blok 4 in Smartie Town plaasgevind toe ’n stryery tussen die voortvlugtige en sy 12-jarige dogter ontstaan het.
Toe die stryery oproerig raak, het omstanders die meisie se ouma en haar kêrel geroep met die hoop dat hulle die situasie kon stabiliseer. Op daardie tydstip het die 56-jarige vrou haar dogter en man probeer kalmeer, maar sy het nie daarin geslaag nie.
Volgens ’n woordvoerder van die Macassar-polisie het die ouma verduidelik sy en haar kêrel het daar aangekom om die stryery stop te sit. Die verdagte het toe glo ’n mes uitgepluk en die ma, haar dogter en die ouma se kêrel aangeval en gesteek voordat hy te voet uit die woning gevlug het.
Die polisiewoordvoerder het bevestig dat die 12-jarige meisie, haar ma en die ouma se kêrel gewond is en na ’n hospitaal geneem is vir verdere mediese behandeling van hul steekwonde. Al drie is sedertdien ontslaan en sterk tuis aan.
Die polisie is vandat die saak Saterdag aangemeld is op soek na die voortvlugtige en het die gemeenskap se hulp gevra vir enige inligting oor waar die verdagte hom bevind.
Die polisie kon teen druktyd nie die ouderdom van die verdagte bevestig nie.
Enigeen met inligting word gevra om AO Cobus Greeff van die Macassar-polisie by 083 234 6354 te bel.
. In ’n onverwante voorval het die Strand-polisie Maandagoggend (20 Februarie) ’n 26-jarige man in hegtenis geneem nadat hy na bewering in besit van ’n vermoedelik ongelisensieerde vuurwapen, ammunisie en dwelms betrap is.
Volgens sersant Wesley Twigg, ’n provinsiale polisiewoordvoerder, het die voorval in Finkstraat, Casablanca, plaasgevind.
“Weens die voordurende bendegeweld in die gebied was lede van die Strand-polisie besig met ’n misdaadvoorkomingsoptrede in die gebied toe hulle twee mans op die hoek van die straat sien sit,” het hy gesê.
“Toe die polisiebeamptes in hul rigting stap en die mans hulle gewaar, het een opgespring en voet in die wind geslaan.
“ ’n Jaagtog het gevolg en die verdagte is deur die polisiebeamptes vasgetrek en deursoek. Hy is in besit van ’n pistool met ammunisie en dwelms betrap.”
Die verdagte verskyn vandag (Woensdag 22 Februarie) in die Strand-landdroshof.


