Die Macassar-polisie se AO Pieter “Kobus” Greeff en kapt. Andries Geldenhuys (speurhoof) saam met speursersant Norman Ngonelo. Foto: Jamey Gordon


Twee beskuldigdes wat in 2021 vir ’n bendeverwante mesmoord in Macassar aangekla is, ry danksy puik speurwerk slegs twee jaar ná hul inhegtenisneming aan die pen.

Die beskuldigdes, Zachary “Jaggers” Alexander (33) en Nathan “White” Moses (23), wat albei vermeende lede van die JCY-bende is, is verlede Woensdag (4 Oktober) in die Somerset-Wes-streekshof tot onderskeidelik 38 en 25 jaar gevangenisstraf gevonnis.

JCY is ’n akroniem vir Junior Cisko Yakkies en bestaan grotendeels uit lede van die 26- en 27-tronkbendes.

Alexander en Moses se vonnisopleggings volg nadat hulle in verband met die moord op ’n mededinger-tronkbendelid, Isaac Anthony April, in hegtenis geneem is. Die 41-jarige van Macassar is dood nadat hy omstreeks 03:44 Donderdag 4 Februarie 2021 deur die beskuldigdes, wat deel van ’n groter groep was, ten aanskoue van ’n mede-tronkbendelid in Abraham Wyngaard-weg geteiken is.

’n Ooggetuie is van geld, sy fiets en Dakota-skoene beroof voordat April die slagoffer van ’n noodlottige mesaanval geword het. Die oorledene het op die toneel aan 13 messteekwonde, insluitend vyf in die rug en een aan die kant van sy kop, gesterf. Die beskuldigdes het van die toneel af gevlug.

Die eerste deurbraak was toe die ondersoekbeampte, speursers. Norman Ngonelo, die ooggetuie wat in verband met twee roofsake gesoek is, in hegtenis geneem het.

Volgens die ooggetuie is April deur die beskuldigdes se groep agtervolg. Hy het aanvanklik by ’n ander groep, op wie hy afgekom het, gaan skuil. Hy het met die bendes op sy spoor later van die groep af weggestap, maar die beskuldigdes het hom om die draai in Abraham Wyngaard-weg, waar hy die ooggetuie ontmoet het, ingehaal.

Benewens die sukses danksy Ngonelo se prysenswaardige speurwerk, word ’n spesiale pluimpie gegee aan sy kollega, AO Pieter “Kobus” Greeff, wat later dieselfde oggendnamate die voorval-inligting wat deur die ooggetuie verkry is – dit opgevolg en die verdagtes vasgetrek het. Greeff het Alexander en Moses met ’n besoek aan ’n woonadres op aanklagte van moord en roof met verswarende omstandighede aangekeer. Moses is met bloed aan sy Nike-tekkies in ’n hokkie op die erf aangetref en die gesteelde skoene is langs ’n ander paar onder Alexander se bed gevind.

Die moordenaars was Maandag 8 Februarie 2021 vir die eerste keer in die beskuldigdebank van die Somerset-Wes-landdroshof. Hulle is Dinsdag 23 Februarie 2021 borgtog geweier en het vir die duur van die hofsaak agter tralies gebly.

Albei is vroeër vanjaar – op Vrydag 28 Julie – skuldig bevind en verlede Woensdag op aanklag 1 (moord) 25 jaar tronkstraf opgelê. Alexander is ’n bykomende 13 jaar tronkstraf op die tweede aanklag van roof met verswarende omstandighede opgelê en is ook onbevoegd verklaar om ’n vuurwapen te besit.

Kapt. Andries Geldenhuys, die speurhoof van die Macassar-polisie, het in die lig van dié sukses gesê: “Die lede van Macassar-speurtak lewer deurgaans goeie werk en hul ondersoeke word deeglik gedoen om skuldigbevindings te verseker. Die lede word geprys vir hul ekstra tyd en toewyding, wat tot die sukses bygedra het.”

Macassar-polisie het hul dankbaarheid vir die aanklaers se goeie werk uitgespreek.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article