’n Middeljarige man wat in ’n vermeende hartstogsmisdaad die lewe van sy gewese meisie geneem het, is verlede week in die Somerset-Wes-landdroshof gevonnis.
Die beskuldigde, Sipho Lolwana, is verlede Dinsdag (26 Julie) skuldig bevind aan die moord op Zikhona Venge, wat ná veelvuldige steekwonde in ’n mesaanval dood is. Die 43-jarige van Harare, Khayelitsha, is Donderdag (28 Julie) tot 20 jaar direkte gevangenisstraf gevonnis.
Die vonnisoplegging volg nadat die 29-jarige slagoffer, ook van Khayelitsha, se lewelose liggaam met 37 steekwonde in Oktober verlede jaar gevind is (“Lyk met steekwonde gekry,” DistriksPos, Donderdag 7 Oktober 2021).
Die koerant het voorheen berig Macassar-polisiebeamptes is Sondag 3 Oktober 2021 omstreeks 15:00 deur lede van die publiek na die grutoneel oorkant die ou Huntsman langs die R102 ontbied. Met hul aankoms is die lewelose liggaam van ’n vrou naby ’n grondpaadjie, wat na die treinspoor lei, aangetref.
Sy het veelvuldige steekwonde onder meer aan haar gesig, bors en maag opgedoen en verdedigingswonde aan die arms en hande gehad. Die wonde was steeds bloederig wat daarop gedui het sy het slegs ure vroeër beswyk.
Venge se identiteit was toe onbekend en die polisie het ’n beroep op gemeenskapslede gedoen om vorendag te kom met inligting wat tot ’n deurbraak kan lei of die vrou, wat in ’n mosterd, wit en blou trui met vertikale strepe, blou denimbroek, lang sokkies en swart tekkies geklee was, te identifiseer.
Lolwana is Woensdag 27 Oktober 2021 in verband met die grumoord in hegtenis geneem nadat Venge se familie haar by die Khayelitsha-polisiekantoor as vermis aangemeld het (“Polisie kry snuf in neus; man vas,” Donderdag 18 November 2021).
Volgens die naasbestaandes was die oorledene saam met Lolwana, wat sy na bewering gelos het, weg.
Lolwana het daarna met beserings in die Tygerberg-hospitaal beland nadat sy motor kamstig gekaap is en ’n bus oor sy voet gery het.
Lolwana se voertuig is met die polisieondersoek in Philippi opgespoor. Die silwer Chevrolet Cruze was vol bloed en ’n bebloede mes is binne-in gevind.
“Twee jong seuns, wat ten tyde van die messteekvoorval langs die spoorlyn in die omgewing geloop en gesien het hoe die verdagte die slagoffer onophoudelik aanval en hom probeer verwilder het, het ’n beskrywing gegee wat met dié van Lolwana ooreenstem. Hy is kort nadat hy uit die hospitaal ontslaan is, in hegtenis geneem,” het die ondersoekbeampte, speursersant Norman Ngonelo, gesê.
Ngonelo het bygevoeg DNS-toetse wat gedoen is, het bevestig dat die bloed in die voertuig en op die wapen wel dié van Venge was, en dié uitslae is onlangs in die hof openbaar.
Lolwana het Vrydag 29 Oktober 2021 die eerste keer op aanklag van moord in die Somerset-Wes-landdroshof verskyn. Hy het sy formele borgtogaansoek met sy hofverskyning Dinsdag 16 November laat vaar en was tot sy vonnisoplegging in aanhouding.
Ngonelo het sy blydskap oor die vonnisoplegging uitgespreek asook sy dankbaarheid vir die gemeenskap se samewerking. “Hoewel ons gemik het vir lewenslange gevangenisstraf – wat nie moontlik was nie omdat Lolwana geen vorige veroordelings gehad het nie en ons nie voorbedagte rade kon bewys nie – is ek steeds bly oor die gewigtige vonnis ná harde werk, tyd opgeoffer en hulp van die gemeenskap,” het Ngonelo gesê.
DistriksPos & Helderberg Gazette het die kontakbesonderhede vir ’n familielid van Venge opgespoor, maar ten spyte van verskeie pogings om die familie telefonies te kontak, kon niemand teen druktyd bereik word nie.


