Die diefstal van winkeltrollies is aan die toeneem, en die tendens dat die gesteelde trollies gebruik word om ander gesteelde artikels in rond te karwei of selfs opgebreek of verkoop word vir geld, is kommerwekkend.
Dit is juis waarom die Strand Patrol-buurtwag begin toeslaan het op mense wat met inkopietrollies in die strate van Strand raakgesien word en die trollies vir die verkeerde redes gebruik.
“Jy mag nie in besit wees van ’n trollie van enige maatskappy om jou persoonlike goed te vervoer nie en ook nie die Stad Kaapstad se vullisdromme nie. Ons vat die trollies en vullisdromme af,” sê KC Gericke, die veiligheidsvoorsitter van Strand Patrol.
Hy brei uit dat hulle hand aan hand met verskeie winkels en die Stad werk om die trollies en vullisdromme aan hul regmatige eienaars terug te besorg.
Adjudant-offisier Nico Beukes, ’n woordvoerder van die Strand-polisie, het bevestig die gesteelde trollies en vullisdromme is ’n groot probleem.
“Ons maan die publiek om in te skakel en sulke gesteelde trollies en vullisdromme aan te meld. Enigeen wat hom/haar aan die onwettige verwydering van trollies of vullisdromme skuldig sou maak, kan regtens vervolg word,” het Beukes afgesluit.
Skakel die Strand-polisie by 021 854 9100 om dié oortredings aan te meld.



