Die straatmusikant Marcel Venter vermaak mense met sy soete klanke teen die agtergrond van sonsondergange op die strand. Op die foto is die 27-jarige van Strand in musiekmaak-aksie waar hy verlede Vrydag (10 Junie) mense by die strand met sy pragtige stem en die getokkel van sy kitaar vermaak het.Foto: Yaseen Gaffar


“ ’n Lig moet nooit onder die tafel geplaas word nie, maar liewer bo-op, sodat die hele vertrek verlig kan word. My omgewing, waar ek bly, is my vertrek.”

So verduidelik ’n passievolle musikant wat as ligdraer die sypaadjies by die strand in sy verhoog omskep en teen die asemrowende agtergrond van majestueuse sonsondergange sy Godgegewe talent met strandgangers deel.

Die straatmusikant Marcel Venter is verlede week opgedra in ’n Facebook-inskrywing deur een van talle luisteraars wat geestelik verryk is deur sy bewonderenswaardige straatoptredes en hartroerende melodieë wat sy merkwaardige vaardighede uitbeeld.

“Dit is vir my besonders om te sien hoe mense aangeraak word deur my musiek. My hoop is bloot dat elkeen weer ’n positiewe uitkyk op die lewe sal ontvang,” het dié 27-jarige inwoner van Strand, wat met sy stem en kitaar tower, gesê.

Marcel het voorts vertel dat hy sedert verlede jaar langs die strand oorkant die bekende N’ice-roomyswinkel naby Ben’s on the Beach optree. Hy kan gewoonlik weeksdae tussen 16:00 en 19:00 in lewende lywe ervaar word. Met sy vermaaklike weergawes van liedjies uit verskeie genres, insluitend gospel, country, pop en golden oldies, deel hy sy boodskap met ander – om dit wat God binne-in hom vermag, uit te straal. “Ek is opgewonde oor elke straatoptrede omdat ek elke keer unieke konneksies met mense maak, en ek ervaar ’n gedeelte van die mense waarna almal verlang – die goeie gedeelte,” het hy aangevoer.

Marcel speel die kitaar ongeveer ses jaar al, wat eintlik as aanvulling vir sy stem – die instrument waarmee hy werklik spog – dien. Vir hom is daar min dinge lekkerder as die eenvoudige genot wat hy uit kitaar-speel put, want volgens hom bied dié instrument, anders as ander, hom die geleentheid om lekker te beweeg terwyl hy liedjies uitvoer.

“Musiek is medikasie vir die siel. Die kitaar is ’n instrument met geen beperking nie. Jy kan een liedjie op duisende verskillende maniere speel,” het hy bygevoeg.

Marcel het meegedeel dat hy baie lank gesukkel het om sy musiek ’n voltydse beroep te maak weens die negatiewe aanslag van ander se opinies. Maar, hy het in Maart besluit hy is bereid om elke aand brood te eet en die geloofsprong gemaak.

Nou hoop hy om ander se lewe te verander deur hulle te inspireer om hul drome na te streef ten spyte van wat die wêreld dink. “Musiek is ’n groot term wat baie dinge behels; een daarvan is die adrenalien wat deur ’n mens se liggaam vloei wanneer jy optree. Ek dink dit is seker een van die mees opwindende beroepe en die feit dat ek ’n adrenalien junky is, maak my lewe net soveel beter. Ek hou ook van konstante verandering en my kantoor is basies op enige plek in die wêreld,” het hy gesê.

Dié gekwalifiseerde musikant, wat sy diploma aan die Campus of Performing Arts verwerf het, droom daarvan om op soveel plekke as moontlik musiek te maak en lewens aan te raak. Sy boodskap is: “God lewe en Hy hoor jou, so gesels maar gerus met Hom.”

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article