Die twee beskuldigdes in die Angelo Matroos-moordsaak het op Dinsdag 11 April weer in die Strand-streekhof verskyn en die saak is tot Dinsdag 9 Mei uitgestel.
Donderdag 18 Mei is dit presies ’n jaar sedert Matroos in ’n vermeende bendeverwante skietvoorval dood is. Die 18-jarige is op dié dag verlede jaar omstreeks 11:30 in Petunia-straat, Broadlandspark, doodgeskiet (“Vier vra borgtog ná twee moorde,” DistriksPos & Helderberg Gazette, 25 Mei).
Die verdagtes, Shaun Heyns en Farouk Koopman, is in verband met die skietmoord in hegtenis geneem en het op Woensdag 8 Maart vlugtig in die Strand-landdroshof verskyn voor die saak na die streekhof verwys is (“Matroos-moordsaak na streekhof verwys,” 15 Maart).
Volgens ’n betroubare bron by die Strand-streekhof sal die verdagtes na verwagting dan op die aanklag moet pleit.
“Nadat hulle albei gepleit het, sal getuies geroep word indien nodig,” het die bron bevestig.
Beverly Thomas, Angelo se ma, sê niks kan haar seun terugbring nie en dit het tyd geword dat sy na haar gesondheid omsien.
“Dis tyd om te laat gaan. Die verlange is steeds daar, ek mis Angelo elke dag, maar ek moet nou vir myself begin sorg. Ek laat alles nou in die Here en die regstelsel se hande.”



