Angelo Matroos (18) wat sy lewe in Mei verlede jaar in ’n vermeende bendeverwante-skietvoorval in Broadlandspark verloor het.

Credit: SYSTEM

Die verdagtes in die Angelo Matroos-moordsaak het verlede Woensdag (8 Maart) weer vlugtig in die Strand-landdroshof verskyn voordat die saak na die streekhof verwys is, waar die saak op Dinsdag 11 April sal voorkom.

Die 18-jarige Matroos is op Woensdag 18 Mei verlede jaar omstreeks 11:30 in Petunia-straat in die naburige woonbuurt Broadlandspark in ’n vermeende bendeverwante voorval doodgeskiet.

Die saak het in November verlede jaar ’n interessante wending geneem toe die polisie se teenbende-eenheid nog ’n verdagte weens die moord op die tiener in hegtenis geneem het.

Shaun Heyns is as die tweede verdagte saam met Farouk Koopman geïdentifiseer.

Koopman is kort ná Matroos se moord in hegtenis geneem. Sy borgtogaansoek is by ’n vorige geleentheid afgekeur.

DistriksPos & Helderberg Gazette het voorheen berig dat ’n betroubare bron by die Strand-landdroshof bevestig het dat net Heyns in November om borgtog kon aansoek doen (“Nuwe kinkels in talle Strand-moordsake,” 2 November 2022).

Heyns is aan die einde van verlede jaar borgtog geweier en hy asook Koopman word aangehou totdat die saak volgende maand in die streekhof voorkom.

Die betroubare bron het vandeesweek bevestig alles is in orde vir die saak om na die streekhof oorgeplaas te word.

Beverly Thomas, Angelo se ma, het gesê sy het so twee weke gelede met die teenbende-eenheid gesels en gesê sy gaan nie meer hof toe nie omdat Koopman se familie en die bendes te onbeskof met haar is. “So, ek het dit in die Here se hande gelos; Hy moet sy werk daar doen,” het sy gesê.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article