’n Groep gemeenskapswerkers, wat al die afgelope 23 jaar die gemeenskap dien, se kontrak is onlangs sonder waarskuwing gekanselleer.
Die groep gemeenskapswerkers het verlede Woensdag (26 April) by Masincedane-gemeenskapsdienste se kantoor in Gustrouw moedeloos aan DistriksPos vertel hoe hulle (toe) oor twee dae sonder werk sou sit – ’n werk wat hulle al meer as 20 jaar in Strand en Gordonsbaai verrig.
Sementhia Abia, ’n gemeenskapswerker by Masincedane-gemeenskapsdienste, staan met ’n pakkie in haar hand – ’n pakkie wat medisyne bevat vir mense uit die gemeenskap wat nie self hul medikasie by hospitale kan gaan haal nie. Dis een van die laaste kere dat hulle medikasie gaan aflaai voordat hul kontrak met die departement van gesondheid daardie Vrydag (28 April) beëindig is.
“Ons is twee weke gelede – op Vrydag 21 April – deur ons werkgewers ingelig ons gaan nie meer by Masincedane benodig word nie as gevolg van ’n kontrak wat ons aan ’n ander organisasie verloor het,” sê Abia.
Die gemeenskapswerkers het ’n paar weke gelede opgelet dat gemeenskapswerkers van ’n ander organisasie mense in die gebied van die Helderberg, wat hulle bedien, begin help het.
“Ons het dit nie kop toe gevat nie, maar ons hoor toe later die skokkende nuus. Ons moes die kontrak weer gekry het, want ons kry dit al die afgelope 23 jaar en lewer uitstekende diens,” sê sy.
Die gemeenskapswerkers wat medikasie van die klinieke af ontvang, kom by ’n perseel in Johaar Adamsstraat in Gustrouw bymekaar, wat juis as ’n bymekaarkompunt dien om medikasie aan werkers uit te deel voordat almal in groepe opbreek en die gemeenskap gaan help.
Die gemeenskapswerkers vertel ’n nuwe kontrak (wat jaarliks met hulle gesluit word deur die departement van gesondheid) is in April verlede jaar weer met hulle gesluit. Die kontrak, wat op Vrydag 31 Maart tot ’n einde gekom het, is volgens die werkers deur die departement vir ’n maand verleng – en dis toe dat die werkers glo uit die bloute hoor dat hul kontrak nie weer hernu gaan word nie en dat hulle sonder werk gaan sit. “Van ons mense werk al 23 jaar hier. Baie van hulle hier het begin werk sonder om enige salaris te verdien voordat ons destyds elkeen ’n toelae van R4 400 aangebied is. Die mense wat die kortste hier werk, werk nou vir agt jaar hier. En om so ’n skielike besluit te neem, is ondenkbaar en onmenslik.”
Sy sê Masincedane het ’n kontrak gekry, maar nie vir Gustrouw, Gordonsbaai en Strand nie. Die organisasie bedien Sir Lowry’s Pass en Somerset-Wes.
“Die dames van Masincedane gaan steeds aan. Hulle het steeds hul werk. Maar die 30 dames wat Strand en Gordonsbaai bedien het (die grootste bedieningsgebied in die Helderberg), is nou werkloos.”
“Die departement het die besluit geneem sonder om ons te raadpleeg. Die departement het die chaos kom veroorsaak sonder om te besef hoeveel skade hulle veroorsaak het. Ons stap hier uit sonder ’n pensioen.”
Abulele Dyasi, woordvoerder van die Wes-Kaapse departement van gesondheid, het gesê die departement kan nie kommentaar lewer oor enige kwessies rakende die personeel van Masincedane, wat nou werkloos is, nie.
“ ’n Tender vir ’n eksterne organisasie sonder winsbejag, wat gemeenskapdienste doen, is geadverteer in ooreenstemming met die tesourie se voorskrifte. Organisasies sonder winsbejag in die metro is die geleentheid gebied om aansoek te doen vir gemeenskapsdiensprojekte en hulle moes bewys dat hulle die werk kon doen,” sê Dyasi.
Abulele sê ’n beoordelingsproses is gevolg en die organisasies is gegradeer in ooreenstemming met korporatiewe bestuur asook dienslewering, prestasie en volhoubaarheid. “Die departement van gesondheid en welstand in Khayelitsha se oostelike sub-struktuur het op Vrydag 21 April vanjaar ’n kontrak en diensvlakooreenkoms met Masincedane onderteken, wat sommige van die gebiede dek waarin Masincedane voorheen gewerk het.”
Die departement wou nie verder uitbrei oor wie die nuwe kontrak ontvang het nie.



