Veertig moeders van Erijaville in Strand is die afgelope Sondag (17 Augustus) by ‘n spesiale viering deur die Maranatha-sopkombuis vereer.
Die vrouegeleentheid het by die Volkskerk Die Strand op die hoek van Derdestraat en Onverwachtpad in Rusthof plaasgevind.
Die oudste moeder teenwoordig was Millie de Waal. Mary-Ann Williams het ‘n Bybelwoord gebring, wat die vroue gemotiveer het om hul plekke in die gemeenskap vol te staan.
Sy het verwys na die feit dat vroue in die gebied noodgedwonge leiers word omdat hulle verskeie rolle moet vervul.
Dit gebeur wanneer enkelma’s teen wil en dank as beide moeder én vader moet optree en oumas hul kleinkinders grootmaak wanneer die ouers nie meer daar is nie.
Katy Arendse, die bestuurder van die Maranatha-sopkombuis, het haar dankbaarheid aan die NG-gemeente Suiderstrand uitgespreek, wat pakkies geskenk het, die Volkskerk wat die geleentheid gehuisves het en Patricia Mkili, wat die middagete voorberei het.


