Die voertuig wat Donderdagaand 12 Oktober met drie insittendes teen die sleephelling oorkant die Gordonsbaai-boot-en-hengelklub in Harbour Island afgery en gesink het. Wilna de Beer was een van die insittendes wat ten tyde die voorval in die voertuig vasgekeer was en in ’n reddingspoging uit die water gehaal is. Sy is Maandagoggend 16 Oktober in die hospitaal oorlede.

Credit: SYSTEM

Die Gordonsbaai-polisie ondersoek ’n saak van strafbare manslag nadat die 65-jarige vrou wat uit ’n gesonke voertuig by Harbour Island gehaal is, dae ná die reddingspoging in die hospitaal gesterf het.

Die slagoffer, Wilna de Beer, het voorverlede Donderdagaand (12 Oktober) saam met haar broer, Petrus, en sy huismaat na bewering in die voertuig gesit en kuier toe dit weens “onverklaarbare” redes by die sleephelling oorkant die Gordonsbaai-boot-en-hengelklub afgery en gesink het. DistriksPos & Helderberg Gazette het verlede week oor die voorval berig en Petrus se eerstehandse ervaring van wat na bewering gebeur het, vertel (“Asof iets my ingetrek het”, Woensdag 18 Oktober).

Volgens Petrus was hy ten tyde van die voorval agter die stuurwiel. Hy is een van twee manlike insittendes wat daarin geslaag het om uit die sinkende enkelkajuitbakkie te ontsnap en van ’n waterdood weg te swem. Wilna was in die passasiersitplek vasgekeer en is later danksy reddingspogings van owerhede en bystanders wat kragte saamgespan het, uit die voertuig gered.

Volgens die Nasionale Seereddingsinstituut (NSRI) het Gordonsbaai Sekuriteit (GBSek.) om 20:45 met nuus oor die voorval ingebel. NSRI-bemanning is ontbied en twee reddingswemmers het ’n omstander bygestaan en al drie mense uit die water gered. ’n Bewustelose Wilna is uit die voertuig gehaal. Die twee mans is in ’n goeie toestand aan wal gebring. GB Med Rescue- en ER24-nooddienspersoneel het kardiopulmonêre resussitasie (KPR) op Wilna toegepas terwyl NSRI-bemanningslede bygestaan het. Haar pols is herwin en sy is kort hierna per ambulans na die Helderberg-hospitaal vervoer. Sy is later na die Tygerberg-hospitaal oorgeplaas, waar sy egter verlede Maandagoggend (16 Oktober) oorlede is – inligting wat eers nadat die koerant die Dinsdagoggend (17 Oktober) drukkers toe is, aan die lig gekom het.

Die Tygerberg-hospitaal­woordvoerder Laticia Pienaar het by navraag bevestig dat ’n pasiënt wat ooreenstem met die koerant se beskrywing verlede Maandag oorlede is. “Ons dra ons innige meegevoel oor aan die familie en vriende van die oorledene,” het sy gesê.

Volgens die provinsiale polisiewoordvoerder kapt. FC van Wyk het die Gordonsbaai-polisie aanvanklik ’n doodsondersoek geregistreer ná die slagoffer om 11:22 verlede Maandag by die mediese fasiliteit oorlede is. “Ná verdere ondersoek is die geregtelike doodsondersoek nou verander na strafbare manslag. Niemand is nog in hegtenis geneem nie en die ondersoek duur voort,” het Van Wyk gesê.

Hy het ’n beroep gedoen op enigiemand met verdere inligting oor die voorval om Crime Stop by 08600 10111 te bel of inligting via die MySAPS-toepassing te deel.

Met opvolg ná die verlies het Petrus gesê hy het nog sy suster se dood, wat hom so bewoë gelaat het, verwerk nie.

Wilna de Beer van Grabouw

Wilna de Beer van Grabouw

Wilna se seun, Zander Murphy, het verlede Dinsdagog­gend ’n spesiale skyfievertoning ter nagedagtenis aan sy ma met hierdie boodskap op Facebook gepubliseer: “Ek moes groet … en daar was hoop … maar gister moes ek finaal groet! Ek het nie woorde nie …”

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article