’n Man van Eersterivier, wat verlede Februarie in verband met ’n roofpoging deur die Macassar-polisie in hegtenis geneem is, is byna ’n jaar ná die voorval in die Somerset-Wes-streekhof gevonnis.
Die beskuldigde, Brendon Sam, wat van poging tot roof met verswarende omstandighede aangekla is, is Woensdag 25 Januarie skuldig bevind en gevonnis.
Die vonnisoplegging volg nadat die 30-jarige Woensdag 2 Februarie verlede jaar twee vroue in die parkeerterrein van die Sitari Village-winkelsentrum langs die R102 geteiken het.
Die beskuldigde het die ma en dogter omstreeks 11:00, pas nadat hulle met inkopies na hul motor teruggekeer het, in die voertuig verras. Sam het die slagoffers op die agterste sitplek ingewag en toe die 42-jarige inwoner van Croydon en haar 65-jarige moeder by die voertuig ingeklim het, hulle met ’n vuurwapen aangehou en opdrag gegee om te ry. Maar die slagoffers het ’n bohaai opgeskop en danksy die vinnige optrede van padwerkers, wat in die omgewing gewerk en hul noodkrete gehoor het, ’n kapingspoging vrygespring. Die beskuldigde het weens dié reaksie uit die voertuig gespring en is in ’n mislukte poging om te ontsnap met die hulp van veiligheidswagte van die winkelsentrum aangekeer.
Sam is in Januarie vanjaar 10 jaar tronkstraf opgelê, waarvan drie jaar vir vyf jaar opgeskort is, op voorwaarde dat hy nie aan roof of poging tot roof skuldig bevind word nie. Hy staar sewe jaar tronkstraf in die gesig en is ook onbevoeg verklaar om ’n vuurwapenlisensie te besit.
Die Macassar-polisie het in die lig van die vonnisoplegging die ondersoekbeampte, konstabel Eric Mboniswa, vereer vir sy puik speurwerk wat tot die sukses van die saak gelei het.
Die slagoffers het owerhede, insluitend die polisie en hofpersoneel, ’n pluimpie gegee vir hul gewaardeerde kommunikasie gedurende die saak en hul omgee en moeite om die beste uitkoms te bewerkstellig. “Dit was ’n lang pad, maar die vonnisoplegging is bewys dat die wiele van geregtigheid wel draai,” meen die slagoffers.
“Ons is nou meer gerus dat die misdadiger nie op vrye voet is nie. Ek doen ’n beroep op gemeenskapslede om meer waaksaam en bewus te wees van wat rondom hulle aangaan.”


