’n Man (40) van Strand is Maandag (16 Januarie) in die vroeë oggendure in die bo-been geskiet nadat ’n bakleiery op die sypaadjie voor ’n supermark aan die oorkant van Strand Pavilion in Kusweg uitgebreek het.

Volgens adjudant-offisier Nico Beukes, ’n woordvoerder van die Strand-polisie, het die bakleiery omstreeks 00:40 uitgebreek.

“Die slagoffer, wat op daardie tydstip in die 82 On Beach-nagklub was, het gesien hoe iemand sy motor met bottels gooi,” sê Beukes.

Die slagoffer het toe na sy motor gestap waar hy drie mense wat glo bottels na sy motor gegooi het, gekonfronteer het.

“Die drie onbekende mans het toe omgedraai en die man gejaag. Een het ’n vuurwapen gehad; die ander twee het onderskeidelik ’n mes en ’n paal in hul hande gehad,” voer Beukes aan.

Drie skote is op die slagoffer afgevuur terwyl hy probeer vlug het. “Een van die skote het hom in die bo-been getref. Die verdagtes het in ’n onbekende fabrikaat voertuig, wat beskryf is as ’n wit bakkie waarvan niemand die registrasienommer gesien het nie, weggejaag.

Nadat die polisie die slagoffer ondervra het, het hy self na ’n hospitaal gery vir verdere behandeling.

Die Strand-polisie het namens die slagoffer ’n saak van poging tot moord geopen. Van die bewysstukke in die saak is drie 9 mm-patroondoppies en ’n swart paal.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article