Lede van die polisie en verskeie veiligheidsmaatskappye was op die toneel kort nadat ’n man buite Absa by die Habitat-sentrum beroof is. Die slagoffer is kort ná 10:00 glo van honderde duisende rande beroof. Dit terwyl hy op pad na die Absa-tak was om die geld te gaan deponeer. Foto: Rick Marais


’n Saak van gewapende roof is by Somerset-Wes-polisie aangemeld nadat ’n man wat glo op pad was om geld te gaan bank, voor die plaaslike Absa-bank se tak beroof is.

Die voorval het Maandagoggend (8 Augustus) in die parkeerterrein voor Absa by die Habitat-sentrum buite Somerset Mall plaasgevind.

Volgens sersant Suzan Jantjies, ’n woordvoerder van die Somerset-Wes-polisie, het vier gewapende rowers omstreeks 10:00 op die 46-jarige slagoffer van Khayelitsha toegesak.

“Die slagoffer is deur ’n gewapende man genader, wat hom met ’n vuurwapen gedreig en sy geld geëis het. ’n Tweede rower het die slagoffer toe van voor genader en die slagoffer het daarna nog twee rowers gesien,” sê Jantjies.

Die vier rowers het glo in ’n Volkswagen Polo met vervalste nommerplate van die toneel af gevlug. Benewens die feit dat die rowers se gesigte bedek was, kon die slagoffer volgens die polisie niks verder rakende die voorval onthou nie.

“Niemand is beseer nie en geen skote is afgevuur nie.”

Die slagoffer is na bewering van R200 000 beroof, maar polisie kon nie die bedrag bevestig nie.V Die Somerset-Wes-polisie doen ’n beroep op lede van die publiek met meer inligting oor die voorval, om die ondersoekbeampte, speursersant Thembinkosi Sonjani, by 021 850 1344 te bel.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article