Die Strand-polisie ondersoek ’n saak van poging tot moord nadat ’n 31-jarige man verlede Vrydag (9 November) die slagoffer van ’n messteekvoorval geword het.

Die Broadlandspark-inwoner is in ’n kritieke toestand in die hospitaal opgeneem nadat hy menige steekwonde in die aanval opgedoen het.

Volgens die polisiewoordvoerder AO Nico Beukes het die beweerde voorval omstreeks 21:00 buite die tuiste van die slagoffer in Petunia-straat afgespeel. “Die klaer beweer dat drie mans by sy erf ingestap het terwyl hy en sy neef saam met vriende gekuier het. Die besoekers het glo met die slagoffer se neef stry gekry toe hy na bewering sy stem dik gemaak het oor die rumoer op sy eiendom. ’n Bakleiery het toe glo onder die mans uitgebreek en eindelik tot die messteekvoorval gelei,” het Beukes gesê.

“Die slagoffer het skielik lam geword en ’n warm sensasie oor sy liggaam gevoel. Dit het toe aan die lig gekom dat die slagoffer verskeie kere in die rug bygedam is. Hy het ses steekwonde opgedoen.”

Beukes het gesê die slagoffer is vir dringende mediese behandeling na die hospitaal gejaag. Die Strand-polisie het op die voorval gereageer en hul ondersoek duur voort.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article