Cornelius van der Horst waar hy by Harbour Island gaan hengel het. Hy is steeds onseker of hy garnale in die Helderberg-gebied mag pomp.Foto: Verskaf

Credit: SYSTEM

Hoe maak ’n afgetrede inwoner van Macassar wat as ’n passie visvang, maar ’n beampte by die departement van omgewing, bosbou en visserye (Deff) verhoed hom om aas (prawn) waarmee hy visvang uit te pomp?

Cornelius van der Horst (65), wat elke dan en wan die pad see toe kies om te gaan hengel – gewoonlik naby aan Harmony Park-oord – is glo ’n paar weke gelede deur ’n Deff-beampte verhoed om aas uit te pomp. Dít nadat hy die nodige visvang-permit en ander dokumente byderhand gehad het en onder die limiet van 50 garnale (prawns) gepomp het.

“Die voorval het helder oordag ’n paar weke gelede gebeur, toe een van die beamptes my kom inlig dat ek my aas in die see moet teruggooi en dat ek moet 500 m van die see af garnale uitpomp. Hoe op aarde is dit moontlik? Die prawn word naby aan waar die branders breek, gepomp,” sê Van der Horst.

Hy brei verder uit dat sy permit, wat tot volgende jaar in Januarie geldig is, hom toelaat om weekdiere (dit sluit slakke, mossels en seekatte in), asook mossels, wurms en garnale te pomp en vang en om dit as aas te gebruik.

“Jare gelede, toe ek in 1982 begin visvang het, kon ek nog na die Macassar-strand stap en daar gaan hengel. Maar deesdae is die strande in Macassar en Monwabisi te gevaarlik om alleen daar te gaan hengel,” vertel hy.

“Die manne wat daar hengel, gaan in groepe en hulle dra vuurwapens, want dis al manier hoe hulle hul veiligheid kan verseker. Dis hoekom ek net in Strand, Gordonsbaai en Harmony Park hengel, want dis veiliger vir my om alleen te hengel, maar nou bemoeilik die beamptes die sake, want ek mag nie plaaslik garnale uitpomp nie.

“Ek wonder wat is die verskil tussen Strand, Gordonsbaai en Rooiels, want ek mag glo net garnale in Rooiels pomp – nêrens in die Helderberg nie. Dit maak nie sin nie,” sluit hy af.

DistriksPos & Helderberg Gazette het per e-pos aan Deff uitgereik vir kommentaar oor Van der Horst se situasie en waar hy, volgens sy permit, tans mag aas pomp.

Geen terugvoer is egter teen druktyd is ontvang nie.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article