Inwoners van Macassar het na die plaaslike polisiekantoor opgeruk nadat ’n jongman glo deur die “Bomb Squad”-bende doodgesteek is.

Credit: SYSTEM

Macassar-inwoners het verlede Woensdag (13 April) in groot getalle na die plaaslike polisiekantoor opgeruk om hul ontevredenheid uit te spreek nadat ’n 18-jarige jongman vermoor is.

Volgens Peter Helfrich, wyk 109 se raadslid, het ’n styging in ernstige misdade en moord in die omgewing die laaste paar maande voorgekom.

“Inwoners vertel dat die polisie geen aksie neem om dié soort misdaad onder beheer te bring nie. Inwoners het ook bevestig dat hulle deur ’n bende genaamd die ‘Bomb Squad’ geterroriseer word,” sê Helfrich.

Hy sê bendeprobleme is iets waaraan Macassar gewoond is, maar voeg by dat inwoners nog erg geskok is nadat hulle agtergekom het dat die ‘Bomb Squad’-bende gewone mense op straat vermoor nadat hulle (‘Bomb Squad’) glo dié mense beroof het.

Sergio Lewis is Sondag 10 April in Robert Sobukwe-weg naby die area waar sy pa woon, doodgesteek.

Die oorlendene is glo in die teenwoordigheid van sy jonger suster en broer aangeval.

Donovan Petersen, Sergio se pa, het kommentaar van die hand gewys en gesê hy is nog nie reg om kommentaar oor sy seun se dood te lewer nie.

Volgens Helfrich het inwoners by die optog aangedui dié soort moorde kan voorkom word as die polisie meer sigbaar is.

“Die polisie het inwoners van ons wyk gefaal. Bendeverwante misdaad en bendegeweld het heeltemal buite beheer geraak. Ons smeek Bheki Cele, die minister van polisie, en die polisie se bestuur om meer hulpbronne aan die Macassar-polisie bekend te stel.”

Helfrich het ook genoem dat hy ’n afspraak met die polisie-kluster gehad het en hulle het hom beloof om die Macassar-polisie van 14 Februarie af met meer noodsaaklike hulpbronne “uit te help”.

“Niks van die beloftes het ooit gerealiseer nie en ons vra nou vir minister Cele om ons wyk te besoek,” sluit Helfrich af.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article