’n Jong man van Macassar wat bo sy omstandighede uitgestyg het, met ’n universiteitsgraad spog en steeds vir groot hoogtes mik, dien as inspirerende bewys dat harde werk lonend is.
Brandon Paarwater het onlangs sy voorgraadse (voor PhD) studies in molekulêre biologie en biotegnologie voltooi en werk tans aan sy doktorsgraad. Dié 26-jarige het in 2013 aan die Hoërskool Macassar gematrikuleer en sy grade aan die Universiteit Stellenbosch behaal.
Die Macassar-boorling, wat goeie herinneringe van sy grootwordjare in die plaaslike gemeenskap koester, was van kindsbeen af nuuskierig oor die werking van sekere prosesse in die natuur, veral die heelal.
“Daarom het televisieprogramme soos CSI en Medical Detectives my gefassineer. My rolmodelle op hoërskool was die wetenskaplikes in CSI, omdat ek daarvan hou om probleme op te los,” het hy vertel.
Voor Brandon aan sy honneursgraad begin werk het, moes hy iets kry om tydens sy studies op te fokus. “Ek moes besluit wat om met my honneursstudies te doen, en siektes wat maklik aansteek, het vir my uitgestaan,” het hy verduidelik.
Brandon het sy honneurs in molekulêre biologie cum laude voltooi.
“Tydens my honneurs het ek gefokus op hoe draagbaar tuberkulose is. Ek het ook gaan kyk wat die immuun-respons in rokers en nie-rokers is en wat hulle help om TB te beveg. Ons het na selle van die longe van rokers en nie-rokers gekyk, waar ons ’n in vitro-studie gedoen het.”
Brandon en die span saam met wie hy gewerk het, se studie oor die uitwerking van TB op rokers en nie-rokers, is verlede jaar in die American Journal of Physiology-Lung Cellular and Molecular Physiology geplaas. Daarna het hy as navorsingsassistent aan sy meestersgraad gewerk, waartydens hy op Inborn Errors of Immunity onder kinders gefokus het.
Brandon het dit ook reggekry om sy meestersgraad in mense-genetika cum laude te slaag.
“Ek was in gr. 11 onder die skool se topvyf- akademiese uitblinkers. Ons het in die tweede kwartaal as topvyf die geleentheid gekry om ’n opvoedkundige sielkundige te besoek. Hy het my ’n aanduiding gegee dat ek in ’n wetenskaplike rigting moet studeer,” het hy bygevoeg.
Hy het verduidelik dis juis sy onderwysers wat so baie in hom geglo het en altyd die ekstra myl geloop het, wat hom baie in sy skoolloopbaan en sy studies daarna gehelp het.
“Ek is deur ’n enkelouer grootgemaak. My pa is oorlede voordat ek gebore is. My grootouers het ’n groot rol in my grootwordjare gespeel en ek onthou steeds hul lewenslesse.”
Hy is tans in jaar een van drie vir sy PhD-projek. “Die PhD-projek se doel is om leemtes te vul in ons kennis oor die impak van moederlike MIV en die menslike Sitomegalovirus-ko-infeksie in die konteks van die moeder-fetale koppelvlak immuunrespons in die plasenta, sowel as om te bepaal of so ’n immuunrespons tot inflammasie kan lei.”
Brandon het gesê hy gaan ná sy PhD nog navorsing in immunologie doen, wat hy glo die toekoms is.
“My wenk aan leerders wat tans op skool is, is om te weet enigiets is moontlik as jy dit graag genoeg wil hê. Jy sal altyd struikelblokke hê, maar glo in jouself,” moedig hy leerders aan.



