Macassar se poskantoor was ’n paar dae ná die rooftog steeds gesluit. Foto: Rick Marais


Verbeterde veiligheidsmaatreëls word ondersoek nadat die Macassar-poskantoor onder gewapende rowers deurgeloop het.

Die voorval het verlede Woensdag (6 April) helder oordag plaasgevind by die plaaslike poskantoor, wat skuins oorkant die polisiekantoor in Hospitaalstraat geleë is.

Nege verdagtes, van wie twee polisiebeamptes is, is in verband met die rooftog aangekeer.

Sersant Wesley Twigg, ’n provinsiale polisiewoordvoerder, het die inhegtenisneming bevestig, asook dat twee van die verdagtes polisiebeamptes is wat by die blitspatrollie werk.

“Die verdagtes het met elektroniese toestelle en ’n onbekende bedrag geld van die toneel af gevlug. Die nege verdagtes, tussen 21 en 47 jaar, is in hegtenis geneem en van roof aangekla.”

Twigg het ook bevestig die Harare-polisiekantoor in Khayelitsha se ondersoekspan stel ondersoek in na die twee polisiebeamptes wat deel van die rooftog was.

’n Werker van die poskantoor, wat verkies om anoniem kommentaar te gee, sê hy was aan diens tydens die rooftog en is tans een van ’n span poskantoorwerkers wat deur sielkundiges behandel word.

“Ek het van my middagete-breek af ingekom. Toe ek die deur agter my wou toetrek, is ek deur ’n man met ’n rewolwer ingestoot.”

Die poskantoorwerker het bevestig dat vier kliënte (drie vroue en ’n kind) tydens die rooftog in die poskantoor was.

“Net een man het ’n rewolwer gehad. Hy het my met die agterkant van die vuurwapen geslaan toe ek oorleun om een van die kasregisters vir hom oop te maak. Hy het seker gedink ek wil ’n paniek-knoppie druk, of iets.”

Die poskantoorwerker onthou die verdagtes het aangehou skree en gevra waar die kluis is nadat hulle reeds geld uit die kasregisters gehaal het.

“Ons het die dag voor die rooftog al die poskantoor se geld gebank, dus was daar net so R5 000 in die kluis. Die rowers was glad nie gelukkig nie en het aanhou vra of daar nie iewers nog geld is nie.”

Die rowers het op een tydstip baie gefrustreerd geraak en op die werkers begin vloek en hulle gevra waar die ander kluis en geld is.

“Ek het vir my veiligheid gevrees. Die rowers wou ons nie glo dat daar nie nog geld of nog ’n kluis is nie,” sê die poskantoorwerker.

Wyk 109-raadslid Peter Helfrich sê hy is baie bly dat van die misdadigers, wat al ’n lang ruk sekere sakeondernemings in sy wyk terroriseer, vasgetrek is. Dit was so erg dat van hierdie ondernemings bang was om hul deure oop te maak en sekere inwoners was ook bang om in Wyk 109 rond te beweeg.

Volgens Helfrich het lede van Kaapstad se wetstoepassers en metropolisie en beamptes van die Law Enforcement Advancement Plan (Leap) baie goeie werk gedoen om die verdagtes vas te trek.

“Die Leap-beamptes het verlede Woensdag (6 April) inligting ontvang dat ’n grys Volkswagen Polo in ’n huisroof gesteel is. Die beamptes het ’n beheerpunt in Walter Sisulu-pad in Khayelitsha opgestel, waar hulle twee verdagtes in die Volkswagen Polo in hegtenis geneem het,” sê Helfrich.

Die beamptes is toe in kennis gestel van die rooftog by die poskantoor in Macassar en het ’n derde verdagte gejaag wat te voet gevlug het.

Dié verdagte het hulle na die res van die verdagtes gelei.

“Die beamptes het toe die voertuig deurgesoek en ’n ongelisensieerde 9 mm-vuurwapen sonder ammunisie of ’n magasyn gekry. Die verdagtes is aangekla en sal onderskeidelik in die Khayelitsha- en Somerset-Wes-hof op aanklagte van gewapende roof, huisroof en die besit van ’n ongelisensieerde vuurwapen verskyn.”

Johan Kruger, ’n woordvoerder van die Suid-Afrikaanse Poskantoor, het bevestig dat al die werknemers berading ontvang het.

“Die poskantoor is tans besig om verbeterde veiligheid by van sy hoë-risiko takke aan te bring.

“Ons kan ongelukkig nie inligting oor die nuwe veiligheidsmaatreëls verskaf nie,” sê Kruger.

Enigiemand met enige inligting oor die rooftog of soortgelyke rooftogte kan die SA Poskantoor se misdaad-blitslyn by 0800 020 070 skakel. Mense wat die inligting deurgee, se besonderhede sal vertroulik hanteer word.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article