Die Macassar-polisie ondersoek ’n saak van strafbare manslag nadat ’n vroulike voetganger in ’n padongeluk gesterf het.
Die voorval het verlede Woensdag (4 Desember) op die N2-snelweg naby die Macassar-brug afgespeel en die lewe van ’n geliefde 57-jarige lewensmaat en ouma, Gertrude Jantjies van Macassar, geëis.
Volgens ’n woordvoerder van die Macassar-polisie het beamptes omstreeks 19:30 op die ongeluk gereageer. Die slagoffer het glo saam met nog iemand van die hospitaal in Somerset-Wes af huis toe geloop toe die noodlot tref. “Getuies beweer sy wou die pad oorsteek toe sy deur ’n aankomende voertuig, ’n Volkswagen Golf wat in die rigting van Kaapstad gery het, raakgery is,” het die polisiewoordvoerder gesê.
Die ongelukslagoffer, wat vermoedelik ernstige inwendige beserings opgedoen het, is op die toneel deur paramedici dood verklaar. Die ander voetganger het die voorval oorleef.
Jantjies se lewensmaat, Marthinus Davids (69), het met besoek aan hul tuiste by die B-woonstelblok meegedeel dat hy nie te veel wil praat oor die tragedie wat sy geliefde Gertrude geëis het nie, “want anders huil ek sommer”.
Davids, wat die afgelope 19 jaar sy lewe met Jantjies gedeel het, het buite die huis gesit om die druk van ’n hartverskeurende werklikheid te probeer verlig. “Ons twee het alles gedeel en ook saam die Here gedien,” het hy voorts vertel. “Sy was net ’n liefdevolle mens vir my. Ek gaan alles mis wat ons saam gedoen het en wat sy vir ons beteken het.”
Davids het gesê hy is in rou gedompel toe hy uitgevind het dat sy in die ongeluk gesterf het en is oorweldig deur hartseer en smart.
Die oudste van Jantjies se kleinkinders, wat sy sedert haar dogter se dood onder haar vlerk geneem en gehelp grootmaak het, het gesê sy ouma se verlies laat ’n groot leemte. “Ons is baie hartseer en mis bo alles haar liefdevolle teenwoordigheid,” het haar 19-jarige kleinseun namens hom en sy twee sibbe van 16 en 12 jaar gesê.



