Die Macassar-netbalklub se A-span het in hul derde ligawedstryd teen die gedugte Hill Tigers kragte gemeet.

Credit: SYSTEM

Die Macassar-netbalklub het Saterdag (11 Junie) in ’n opwindende wedstryd by die Boy Louw-sportterrein in Paarl naelskraaps teen die Hill Tigers-netbalklub van Paarl verloor.

Die spanne het mekaar in ’n Liga 2-wedstryd van die Kaap-Wynlandgoed-federasie in die Boland die stryd aangesê. Macassar se A-span het in sy derde ligawedstryd teen hierdie gedugte span kragte gemeet.

Die Helderbergers het die eerste kwart oorheers en vinnig drie doele aangeteken. Hill Tigers het egter verbete teruggeveg en die telling aan die einde van die eerste kwart was 7-7.

Tydens die tweede en derde kwarte het Hill Tigers egter die oorhand gekry en Macassar met ’n aantal skouspelagtige doele gepeper.

Macassar het telkemale gesukkel om die bal te sink en daarbenewens moes Alexis Snyders, ’n sleutelspeler, die baan weens ’n enkelbesering verlaat. Snyders is met Valishia Balters vervang.

In die laaste kwart van die wedstryd het die ervaring van Anita Cloete en die spankaptein, Cindy Cookson, egter ’n reuseverskil in Macassar se guns teweeg gebring.

Cookson het nege doele in die wedstryd aangeteken.

Snyders was intussen terug op die verdediging en Macassar het hierdie kwart met vier doele teenoor Hill Tigers se twee gewen. Doele is onder meer gesink deur Sandra Hendricks en Rosney de Wee.

“Buiten die talle hanteerfoute het Macassar egter ’n redelik goeie wedstryd gehad. Ons is dus steeds baie positief ná hierdie wedstryd en ons moraal is inderdaad baie hoog,” het die Macassar-afrigter, Anita Cloete, ná die wedstryd gesê.

Die Macassar-netbalklub is in 2009 gestig en het voorheen as die Chrysalis-netbalklub bekend gestaan. Hulle speel tans onder die vaandel van die Kaap-Wynlandgoed-federasie in die Boland.

Sedert die ontstaan van die klub het talle van die spelers reeds provinsiale kleure verwerf, en baie was ook lid van ontwikkelingspanne.

V Die eindtelling was 32-29 in die guns van Hill Tigers.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article