Die lyk van ’n onbekende tiener, wat voorverlede Woensdag (12 Februarie) in Macassar ontdek is (“Seun se liggaam in veld gevind,” DistriksPos & Helderberg Gazette, 19 Februarie), is sedertdien as dié van ’n seun van Grassy Park uitgeken. Die lewelose liggaam van Marcelino Hartzenberg (15) is op ’n oop veld naby Macassarweg aangetref. Hartzenberg is met ’n skietwond aan sy liggaam gevind en deur mediese personeel, wat op die toneel gereageer het, dood verklaar. Die omstandighede rakende die voorval maak deel uit van die Macassar-polisie se moordondersoek. Inligting van nabygeleë gemeenskapslede het die moontlikheid dat hy moontlik daar gestort is, uitgesluit, aangesien inwoners verskeie skote gehoor het. Mense met inligting wat moontlik tot ’n deurbraak in die ondersoek kan lei, word aangespoor om na vore te kom en die Macassar-speursersant Norman Ngonelo by 021 857 7107 te bel.


You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article