Die borgtogaansoek van die Bellville-inwoner William Mathee wat teregstaan weens die moord op Sharaleen Isaks nadat haar lyk een van vier was wat binne ’n week in Macassar ontdek is, is vir uitspraak tot Maandag 3 Julie uitgestel.
Dit nadat die 41-jarige homself verlede Woensdag (21 Junie) en Vrydag (23 Junie) vir ’n borgtogaansoek in die Strand-landdroshof se beskuldigdebank gevind het.
Mathee se hofverskyning volg nadat hy voorverlede Maandag (12 Junie) in verband met die moord op Isaks, wie se lyk Saterdagoggend 27 Mei by Macassar-strand aangetref is, in hegtenis geneem is. Die beskuldigde het voorverlede Donderdag (15 Junie) vir die eerste keer in verband met die misdaad in die plaaslike hof voorgekom (“Verdagte in hof oor lyk in Macassar,” DistriksPos & Helderberg Gazette, 21 Junie). Isaks se lewelose liggaam is een van vier onbekende lyke wat binne ’n week in Macassar aangetref is (“Vierde lyk binne week in Macassar aangetref,” 7 Junie).
Die koerant het vroeër berig dat die polisie Saterdag omstreeks 07:00 deur ’n visserman wat die liggaam van die 25-jarige van Delft op die water sien dryf het, na die toneel by die strand ontbied is.
Die lyk van die halfnaakte vrou is deur owerhede uit die water gehaal. Die polisie het ’n geregtelike doodsondersoek geopen en ’n beroep op die breë gemeenskap gedoen vir inligting om die vrou te identifiseer asook nog drie lyke wat binne die bestek van dae in die gemeenskap gevind is.
Nadat Isaks se liggaam aangetref is, het die Macasssar-polisie aanvanklik ’n geregtelike doodsondersoek geopen, maar die saak het ’n nuwe wending geneem toe die nadoodse ondersoek moord bevestig het.
Volgens die polisie het die lykskouing ook aan die lig gebring dat die slagoffer verkrag, uiteindelik vermoor en op die strand gestort is. Deur die aanbieding van voldoende bewyse het die ondersoekspan ’n lasbrief vir die inhegtenisneming van die verdagte by die Bellville-landdroshof bekom. Gewapen met hierdie lasbrief vir inhegtenisneming het die ondersoekspan op die woning van die verdagte toegeslaan waar hy aangekeer is.


