’n Optog van inwoners het die afgelope Saterdag (13 April) deur Macassar se strate gemarsjeer om hul ontevredenheid uit te spreek oor die vermeende verskuiwing van onwettige besetters langs die sentrale spoorlyn van die Passasierspooragentskap van Suid-Afrika (Prasa) na die plaaslike gemeenskap.
Die inwoners het vroegoggend in groot getalle by die taxistaanplek op die hoek van Zandvleitweg en Musica-laan vir die vreedsame optog byeengekom.
DistriksPos & Helderberg Gazette het verlede week berig oor die betoging wat volg nadat bewerings van die veronderstelde verskuiwing van ongeveer 2 000 besetters langs die Prasa-lyn na die Macassar-gemeenskap onlangs opgeduik het. Dit was tot groot ontsteltenis van inwoners in Macassar, wat glo die betrokke grond eerder aan mense met ’n behuisingsbehoefte in die plaaslike gemeenskap toegeken moet word (“Relocation denied,” 10 April).
Andiswa Makanda, ’n woordvoerder van Prasa, het by navraag deur die koerant bewerings van die veronderstelde verskuiwing na grond in Sandvlei weerlê en bygevoeg dat daar tans geen sprake van die besetters se verhuising na die Helderberg-gemeenskap is nie. Die projekbestuurskomitee het ook gesê hoewel die terrein in Macassar voorheen as ’n moontlik lewensvatbare opsie ondersoek is, is geen verkryging beklink nie.
Maar, Macassar-gemeenskapslede hou vol dat hulle nie deel was van belangrike gesprekke oor die aangeleentheid nie.
Om te verseker dat die verskuiwing van die besetters na hul hoek in die Kom nie gebeur nie en hul teenstand in ag geneem word, het ’n groot skare inwoners in ondersteuning van die optog uitgekom en hul stem dik gemaak.
Volgens die gemeenskap se verteenwoordiger, die wyk 109-raadslid Peter Helfrich, het die hele wyk aan die optog deelgeneem om te sê “ons gaan nie toelaat dat Prasa voortgaan met die hervestiging van die onwettige bewoners op hul sentrale lyn hier in Macassar nie.
“Die gemeenskap is ontsteld, want in 2022 het Prasa ons belowe dat hulle met die inwoners sal praat indien hulle ooit grond in Macassar wou bekom om die bewoners te hervestig. Hulle het dit nie gedoen nie,” het Helfrich Saterdagoggend op video aan gebruikers op die koerant se Facebook-blad gesê.
Helfrich het ná die optog sy dankbaarheid uitgespreek teenoor plaaslike godsdiensleiers uit verskeie gelowe wat verlede Donderdag op kort kennisgewing ’n vergadering om die Prasa-aangeleentheid te bespreek, bygewoon het. “Ek sê ook dankie aan alle gemeenskapsleiers wat die vergadering in ’n stampvol saal bygewoon het. Dit was bemoedigend om te sien hoe ons leiers bymekaarkom en met een stem praat.
“Dankie vir u pogings om die sukses van [Saterdag se] optog te verseker, wat ’n sterk opkoms deur inwoners opgelewer het. U bydraes het ’n deurslaggewende rol vervul om die optog ’n sukses te maak. Ek twyfel nie daaraan dat Prasa die boodskap van wyk 109 hard en duidelik ontvang het nie. Inwoners wil nie hê dat die onwettige bewoners wat tans op die sentrale spoorlyn woon, na Macassar verskuif word nie.
“Groot dank aan elke beampte, die Suid-Afrikaanse Polisiedienste, die gemeenskapspolisiëringsforum, buurtwaglede, verkeersdienste, wetstoepassingsbeamptes, die Stad Kaapstad-personeel, die mense wat die klank by die lokale hanteer, diegene wat hand bysit met vervoer, fotograwe, videograwe, die kern leier-span wat die optog gereël het, die hardlopers en al die vrywilligers. Julle harde werk het die optog voorwaar ’n sukses gemaak.
“Laastens bedank ek elke inwoner wat aan gister se optog deelgeneem het. Dankie ook vir jou deelname aan die petisie,” het Helfrich in ’n persverklaring gesê.
Helfrich het verder meegedeel dat gemeenskapsleiers steeds die handtekeninge wat die petisie gewerf het, tel, maar hulle glo die 10 000-handtekeningsmerk is oorskry.
“In reaksie op die oorweldigende ondersteuning het ons gemeenskapsleiers besluit om die sperdatum vir die petisie te verleng om meer inwoners in staat te stel om te teken voordat ons dit by Prasa indien. Ons het baie meer inwoners nodig om te teken om ’n werklike impak te maak.”. Vir diegene wat belang stel om die petisie te teken, besoek https://share-eu1.hsforms.com/1_iAu4lxqRuKLsYNXhSKvLAexg32




