Die Macassar-polisie het Maandag (27 Maart) ’n verdagte in verband met die vermeende moord op Denecke Persence in hegtenis geneem.
Dié sukses volg nadat polisiebeamptes Maandagoggend ’n lasbrief vir die inhegtenisneming van die moordverdagte verkry en teen die middaguur uitgevoer het. Die 55-jarige sou na verwagting vanoggend (Woensdag 29 Maart) op die aanklag van moord in die Somerset-Wes-landdroshof verskyn.
Volgens ’n Macassar-polisiewoordvoerder was die verdagte een van drie mense wat aanvanklik ná die gruvonds vir ondervraging na die polisiekantoor geneem is, maar weens ’n gebrek aan genoegsame bewyse nog nie aangekla kon word nie.
Die polisiewoordvoerder het by verdere navraag bevestig die lykskouing het ’n misdaad onthul en dat Denecke se doodsoorsaak verdrinking was.
“Verdere polisieondersoek het daartoe gelei dat getuies na vore gekom het en die inhegtenisneming moontlik gemaak is,” het die polisiewoordvoerder gesê.
DistriksPos & Helderberg Ga zette het verlede week berig DNS-toetsuitslae, wat verlede Maandag (20 Maart) ontvang is, positief met Denecke verbind is. Boonop is die 10-jarige ook in dieselfde T-hemp wat sy op die foto van die vermiste-persoon-kennisgewing aangehad het, gevind (“Lyk ís toe dié van jong Denecke”, 22 Maart).
Die nuwe verwikkelinge volg nadat nuus van Denecke se verdwyning aanvanklik Sondagoggend 12 Maart bekend geword het toe ’n kennisgewing wyd en syd via sosiale media versprei is en ’n beroep op die publiek gedoen is om die meisie, wat Saterdag 11 Maart omstreeks 14:00 laas in Zandvlietweg oorkant die taxistaanplek gesien is, te help opspoor.
Volgens die pamfletbeskrywing het Denecke, wat lang bruin hare (in ’n bolla), bruin oë en ’n skraal liggaamsbou het, ten tyde van haar verdwyning ’n pienk, geel en wit toppie met blou jeans en swart tekkies aangehad.
Nuus van die gruvonds in die gemeenskap het gou versprei en teen Sondagmiddag (12 Maart) is ’n lyk, wat vermoedelik dié van Denecke was, in ’n toegegroeide kanaal langs Rembrandtlaan in Marvinpark gevind (“Tragedy strikes: Horrific discovery in Macassar canal,” Netwerk24, 12 Maart). Plaaslike owerhede is Sondag omstreeks 14:00 tot aksie geroep nadat die lyk deur lede van ’n soekgeselskap, wat sedert Denecke se verdwyning die Saterdagaand na haar gesoek het, in die kanaal ontdek is. Die liggaam, wat heeltemal onder water en met die gesig na onder deur ’n vragmotorband vasgepen was, is later ten aanskoue van ’n groot skare omstanders verwyder.
’n Geregtelike nadoodse ondersoek is deur die Macassar-polisie geopen en DNS-monsters is Dinsdag 14 Maart weggestuur omdat ’n formele uitkenning weens die ontbinding van die lyk nie sou kon bepaal of die lyk wel dié van Denecke is nie (“Lyk van meisie dalk Denecke,” 15 Maart).
Intussen het die gruvonds geestelike leiers genoop om saam te span vir ’n massagebedsessie wat voorverlede Maandagaand (13 Maart) by die plek waar Denecke se liggaam ontdek is, gehou is. ’n Deurry-gedenkdiens vir die jongeling is verlede Donderdagaand (23 Maart) by die J-woonstelblok in Bass-straat gehou.
Denecke is Sondag (26 Maart) uit die Hoërskool Macassar se skoolsaal begrawe en in die Somerset-Wes-begraafplaas ter ruste gelê.
Die begrafnisdiens is voorafgegaan deur ’n staptog van Marvinpark Primêre Skool tot by die skoolsaal waar talle rouklaers hul laaste eer aan die geliefde kind betoon het. Die begrafnisdiens is deur die laerskool se Randall Olsen gelei en die eerste spreker aan die woord was die Wyk 109-raadslid Peter Helfrich, wat as een van twee sprekers op die program eerste aan die woord was.
“Wat met Denecke gebeur het, moes nooit gebeur het nie,” het hy gesê. “Terwyl almal van ons op die oomblik treur, is daar ook iets anders wat in ons broei. Die ding wat in ons almal broei, is ’n groeiende woede – woede vir die oortreders wat onder ons skuil soos die lafaards wat hulle is, wagtend vir hul geleentheid om ons vroue en kinders seer te maak wanneer niemand kyk nie. Dit is ’n bekende feit dat wanneer jy ’n slapende beer teëkom, jy dit nie moet wakker maak nie. Wat jy gedoen het toe jy aan Denecke geraak het – jy het die beer gesteek. Ons wyk was soos ’n slapende beer wat die misdadiger uitgelok het.”
’n Deel van die begrafnisprogram was hartroerende sangitems deur Lavenia Philander en die Ferris-susters, ’n geestelike dansitem en ’n gedig deur Gerayshia Endley. Die boodskap deur pastoor Rodwill Prince is voorafgegaan deur ’n woord deur Anneline Hartzenberg en die huldeblyke van Leona van Söhnen en Althea Pieterse.
Die geestelike-teenmisdaad-komitee in Macassar het ná die inhegtenisneming ’n aanlyn petisie ter teenstand van die verdagte se borgtog opgestel. Teen die koerant se druktyd gisteroggend (Dinsdag 28 Maart), het die petisie reeds 1 000 handtekeninge gehad. Die komitee-sekretaris, Auriel September, het gesê die petisie is genoodsaak deur die gruwelike misdaad wat tot onbeskryflike trauma gelei het en deur die gemeenskap veroordeel word.
“Die boodskap wat Macassar met die petisie uitstuur, is dat ons nie sulke misdade sal duld nie en nie sulke misdadigers in die samelewing wil hê nie,” het September gesê.
Sy het verder ’n beroep op gemeenskapslede gedoen om hul aksie te ondersteun en die petisie te teken sodat geregtigheid vir Denecke kan seëvier.
- Om die petisie te teken, besoek https://chng.it/v7d5tyyB.



