Die Macassar-polisie ondersoek ’n saak van moord nadat die lewelose liggaam van ’n vermeende tienerseun in die gemeenskap ontdek is. Die gruvonds is verlede Woensdagoggend (12 Februarie) gemaak toe die lyk op ’n oop veld naby Macassarweg aangetref is. Volgens ’n provinsiale polisiewoordvoerder, sersant Wesley Twigg, is die slagoffer met ’n skietwond aan sy liggaam gevind en deur mediese personeel wat op die toneel gereageer het, dood verklaar. “Die omstandighede rakende die voorval word ondersoek. Die verdagte(s) moet nog in hegtenis geneem word,” het Twigg gesê. Luidens ’n verslag is die seun, vermoedelik sowat 15 jaar oud, omstreeks 10:00 met ’n kaal bolyf en in ’n grys broek en wit Nike-tekkies deur inwoners van die Sandvlei-gemeenskap aangetref. Die vermoede is dat die lyk moontlik in die gemeenskap gestort is. Enigeen met inligting oor die voorval of wat kan help om die liggaam te identifiseer, word vriendelik versoek om Crime Stop by 08600 10111 te kontak.


You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article