’n Macassar-ondersoekbeampte, speursersant Norman Ngonelo, saam met bedroefde naasbestaandes van die vermiste Denecke Persence op die toneel waar ’n lyk, wat vermoedelik hare is, Sondag in ’n kanaal ontdek is. Foto’s: Jamey Gordon


“Wat hier gebeur het, is onaanvaarbaar, en wat in die donker gebeur, sal aan die lig kom. As gemeenskap voel ons die pyn van ’n moeder; van ’n jong lewe wat op so ’n wrede manier geneem is. Maar, ons hulp is nog altyd van die Here wat hemel en aarde geskape het.”

Met hierdie woorde het biskop Abraham Manuel van Macassar Maandag (13 Maart) ’n skare gemeenskapslede in ’n gebedsessie by die plek waar die vermeende lyk van die vermiste Denecke Persence ontdek is, gelei.

Die samekoms volg nadat die 10-jarige meisie van Macassar Saterdag (11 Maart) as vermis aangemeld is en ’n lyk, wat vermoedelik dié van die meisie is, Sondagmiddag (12 Maart) in ’n kanaal gekry is (“Tragedy strikes: Horrific discovery in Macassar canal,” Netwerk24, 12 Maart).

Nuus van Denecke se verdwyning het aanvanklik bekend geword nadat ’n kennisgewing Sondagoggend wyd en syd via sosiale media versprei en ’n beroep op die publiek gedoen is om die meisie, wat Saterdag omstreeks 14:00 laas in Zandvlietweg oorkant die taxistaanplek gesien is, te help opspoor. Volgens die pamfletbeskrywing het Denecke, wat lang bruin hare (in ’n bolla), bruin oë en ’n skraal liggaamsbou het, ten tyde van haar verdwyning ’n pienk, geel en wit top met blou jeans en swart tekkies aangehad.

Nuus van ’n gruvonds in die gemeenskap het gou gevolg, en teen Sondagmiddag is ’n lyk, wat vermoedelik dié van Denecke is, in ’n oorgroeide kanaal langs Rembrandtlaan in Marvinpark gevind.

Volgens kapt. FC van Wyk, ’n provinsiale polisiewoordvoerder, is plaaslike owerhede tot aksie geroep nadat die lyk Sondag omstreeks 14:00 deur lede van ’n soekgeselskap, wat sedert Saterdagaand na Denecke gesoek het, in die kanaal ontdek is.

Met DistriksPos & Helderberg Gazette se aankoms op die toneel het talle gemeenskapslede in ongeloof en skok rondom die toegegroeide kanaal saamgedrom terwyl die polisie die gebied vir bewyse en moontlike leidrade gefynkam het. Talle omstanders, onder wie Denecke se ontstelde familielede, het op die toneel gebly totdat die liggaam, wat heeltemal onder water en met die gesig na onder deur ’n vragmotorband vasgepen was, teen 17:00 verwyder is.

’n Geregtelike nadoodse ondersoek is deur die Macassar-polisie geopen. Volgens ’n polisiewoordvoerder is ’n formele uitkenning weens die ontbinding van die lyk nie moontlik nie en DNS-toetse sou Dinsdag gedoen word om te bepaal of die lyk wel dié van die vermiste meisie is.

Die polisiewoordvoerder het by verdere navraag bevestig hoewel drie mense ná die vonds vir ondervraging na die polisiekantoor geneem is, is niemand nog teen die koerant se druktyd (Dinsdagoggend) in verband met die voorval in hegtenis geneem of aangekla nie. Mense met inligting kan die ondersoekbeampte, speursersant Norman Ngonelo, by die Macassar-polisie (021 857 7100) bel.

’n Naasbestaande van Denecke wat vandeesweek om kommentaar genader is, het die geleentheid van die hand gewys en meegedeel dat die familie op hierdie tydstip niks wil sê nie.

Geestelike leiers het Maandagaand by die kanaal, wat sedert die vonds glo deur ontstoke inwoners aan die brand gesteek is, byeengekom. Daar het hulle vir haar ouers, teen die euwels waaronder die gemeenskap gebuk gaan, en vir ’n gees van vergifnis gebid. Die geleentheid is weens die hartverskeurende verlies in die gemeenskap deur sekretaris van die geestelike teenmisdaad-komitee, Auriel September gereël en het beroep gedoen op gemeenskapslede om vir Macassar te kom bid. Nog ’n geestelike leier het teenwoordiges met ’n skriflesing uit die boek Tessalonisense bemoedig om nie op te hou bid nie en ook nie die krag van gebed te onderskat nie. “Die Here hoor ons gebede wat krag dra. God se oë is op hierdie plek en op die gemeenskap van Macassar en Hy sê vanaand [Maandag], ‘My kinders roep my aan’ en weet dat Hy ons nooit teleurstel nie.”

Talle omstanders het Sondag in ongeloof op die toneel saamgedrom terwyl misdaadtoneelkundiges die omgewing gefynkam het.

Gemeenskapslede het deelgeneem aan ’n spesiale gebedsessie wat Maandagaand by die plek waar die lyk ontdek is, gehou is. Beide jonk en oud het ten slote die “Onse Vader” opgesê.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article