Wat beteken ’n gebroke gemeenskapspolisiëringsforum (GPF) vir ’n gebied soos Macassar?
Die is een van talle vrae wat gevra word oor Macassar se GPF, wat nou slegs uit twee lede bestaan nadat die voorsitter, onder-voorsitter, kassier en kommunikasiebeampte almal nie meer deel van die GPF is nie.
Russel Williams, die voormalige kommunikasiebeampte van die Macassar-GPF en ook ’n vurige gemeenskapsaktivis, sê hy is geskors omdat sy gedrag “nie na wense” was nie.
Williams is een van verskeie ander wat op Maandag 14 Augustus tydens ’n GPF-vergadering geskors is. Ander lede insluitend Rhoda-Ann Bazier, wat vroeër vanjaar nog die voorsitter van die Macassar-GPF was, het bedank. “Ek het bedank nadat ’n oukeigegee is aan ’n kontrakteur om die salaris van werkers in ’n rekening van die GPF in te betaal. Dit was oneties. Ná ’n vergadering het die lid wat die besluit gemaak het, verskoning gevra vir die voorval,” verduidelik Bazier.
Sy het voorts gesê dat sy haar egter weens daardie besluit nie meer as lid van die GPF kon ag nie. Bazier se klagte asook heelwat andere is aan die GPF se provinsiale struktuur geopper wat teen Maandag 14 Augustus daarop reageer het.
“Pastoor Mark Baatjies, Rosie Sampson en Russel Williams het glo uit die vergadering gestap. Ná die vergadering het die provinsiale GPF-struktuur skorsingsbriewe aan hulle gestuur,” voeg sy by.
Francina Lucas, die voorsitter van die GPF se provinsiale raad, het bevestig dat Macassar-GPF, wat tans net twee lede het, nie funksioneel is nie, want twee lede alleenlik kan nie ’n kworum vorm nie.
Sy het bygevoeg dat ’n aantal bedankings by die Macassar-GPF plaasgevind het.
Williams, wat onlangs die nuus ontvang het dat hy tydelik geskors is, is van mening dat kommunikasie by die GPF ontbreek. “Ek dien al drie termyne in die GPF en in al daardie tyd het ek agtergekom dat ’n vennootskap tussen die polisie en die GPF ontbreek. Ek het my in ’n vergadering daaroor uitgespreek, en toe word ek tydelik geskors omdat my gedrag ‘nie na wense’ was nie. Maar ek het nêrens ’n oproering veroorsaak nie. Ek verwag om ’n openbare verskoning te ontvang, want wat hulle gedoen het, was nie reg nie,” sê hy.
Anonieme bronne wat hul naam wil beskerm weens vrese oor vervolging of afdreiging, het gesê die drie lede wat geskors is, het 21 dae tyd om op hul skorsingsbriewe te antwoord met redes waarom hulle nie geskors moet word nie. “Die drie het nou ’n brief aan die departement van gemeenskapsveiligheid geskryf, en nou moet ons wag om te sien wat gebeur. Die polisiekluster en die GPF se provinsiale raad moet die saak hanteer. Ek dink hulle wil vure probeer doodslaan maar ’n mens slaan nie vure so dood nie,” vertel ’n anonieme bron.
Lucas stem saam dat ’n dringende ingryping moet plaasvind, want misdaad vind steeds elke dag plaas in ’n gemeenskap wat nou sonder ’n funksionele GPF sit.
“Nog ’n vergadering is op Donderdag 14 September gehou. Die proses is nou aan die gang om ’n spesiale algemene vergadering in Macassar te reël. Ons gaan na die gemeenskap uitreik om deel te word en by die GPF aan te sluit. Ons soek mense wat toegewyd is en wat die belange van die gemeenskap eerste stel. Ons het die afgelope paar jaar ’n onstabiliteit in Macassar se GPF ervaar, en die een faktor wat uitstaan, is as jy jouself bereid stel om op die GPF te staan, jy dit met volharding sal doen en sonder enige voorwaardes in die GPF sal dien.
“As mense uit die gemeenskap nie aansluit nie, gaan ons altyd verloor en die misdadigers gaan altyd wen,” voeg Lucas by.



