Twee Macassar-huisgesinne is in sak en as nadat hul wonings in ’n verwoestende brand in puin gelê is.
Danalene Botha en haar gesin benodig die gemeenskap se broodnodige hulp om hul lewe te herbou nadat hul tuiste tot op die grond afgebrand en hulle alles in die tragedie verloor het.
Botha vertel sy was by die werk toe sy verlede Maandagmiddag (14 Oktober) ’n boodskap ontvang het om haar in kennis te stel dat haar woning besig is om deur vlamme verswelg word.
Die harde werklikheid het eers by haar posgevat toe sy op die toneel aangekom en slegs die oorblyfsels van haar huis en alles wat hulle in hul lewe by erf 1176 in Kramat-weg gebou het, aangetref het.
“Ons het alles, soos in alles, in die brand verloor,” het Botha gesê. “Die vlammehel het absoluut alles in ons huis geëis; nie ’n enkele besitting kon gered word nie,” het Botha gesê.
Sy en haar man het oor die jare hard gewerk vir wat hulle wou hê en saam harde klippe gekou vir die huis wat hulle self op die perseel gebou het. “In ’n oogwink is alles, ons hele wêreld, in vlamme op. Dis hartverskeurend,” het sy aangevoer.
Caroline Machelm was in haar bed besig om aan die slaap te raak toe haar huis vlamgevat het. Sy het ’n gesuis gehoor wat haar wakker gemaak het.
Haar man, Rolond, het probeer om van hul besittings uit die huis te red, maar ter vergeefs. Hy het in die gefaalde poging brandwonde opgedoen. Die egpaar, het nes die Botha’s, ook alles verloor.
“Ons het ons familiefoto’s verloor en dit maak die seerste. Ons het al ons herinneringe verloor,” het ’n tranerige Machelm gesê.
Volgens Jermaine Carelse, ’n woordvoerder vir die Stad Kaapstad se brandweer-en-reddingsdienste, het brandweerspanne omstreeks 13:55 op ’n noodoproep van drie huise wat in vlamme gehul is, gereageer. Altesaam 14 brandbestryders van die Macassar-, Strand- en Khayelitsha-brandweerstasies het met twee brandweerwaens, ’n reddingsvoertuig en ’n watertenkwa op die voorval reageer. “Twee groot informele strukture is vernietig, wat sewe mense haweloos gelaat het,” het Carelse gesê. “Die oorsaak van die brand is steeds onbekend.”
Die Botha’s is genoodsaak om hul huis heeltemal te herbou en hoop om teen Kersfees weer in hul eie plekkie te wees. Gevolglik vra hulle dat gemeenskapslede hul hande in die sak moet steek en hulle met enige skenkings of geldelike steun help.
Die gesin weet dat dit harde werk sal verg, maar hoop ook dat hulle hulp van vriendelike en vrygewige lede van die gemeenskap sal kry – eerstens om hul voete te vind en tweedens om hul huis te herbou.
“Enige boumateriaal of skenkings is meer as welkom,” het Botha gesê.
Indien jy aan die Botha-familie wil skenk of meer inligting wil hê, kontak asseblief vir Danalene by 072 230 6722.
Die Machelm-gesin begin herbou aangesien hulle in die huis reg langsaan woon waar hulle alles verloor het. Hulle is sonder elektrisiteit en een van hul kinders het nie ’n bed om op te slaap nie.
“Ons is geseën met ’n paar potte, maar ons benodig eetgerei en borde,” het Machelm bygevoeg.
Indien jy aan die Machelm-familie wil skenk of meer inligting wil hê, kontak gerus vir Rolond Machelm by 084 219 3977.



