’n Ma en haar vier kinders van Macassar reik uit na die gemeenskap en vra klere, kos en ’n dak oor die gesin se kop.
’n Brand het verlede Dobnderdag (13 Oktober) omstreeks 22:20 al Juanita Benn en haar vier kinders se besittings in puin gelê.
Benn en haar kinders woon die afgelope 10 jaar in die oud-kleedkamers by die voormalige Macassar-rugbyveld in Kramat-pad.
“Ek moes werk en my kinders was alleen tuis toe hulle sien die plek is aan die brand,” onthou Benn.
Sy vermoed die brand het by haar buurmense ontstaan, wat aan ’n motorfiets gewerk het. ’n Kers het glo naby aan die petrol van die motorfiets omgeval, en dít het volgens Benn die brand veroorsaak.
Jermaine Carelse, ’n woordvoerder van die Stad Kaapstad se brandweer-en-reddingsdienste, sê die oorsaak van die brand was ’n toestel wat gebruik word om kos te maak wat omgeval en die brand laat ontstaan het.
“Brandweerpersoneel van die Macassar-brandweerstasie is deur die polisie na die toneel begelei. Spanne van Mitchells Plain en Strand is ook na die brand ontplooi.
“Die vlamme is net ná middernag geblus en altesaam ses mense is sonder ’n heenkome gelaat.”
Carelse sê net die kamer binne die kleedkamergebou wat as woonplek ingerig was, is beskadig.
“My kinders is gespaar en ons is baie gelukkig daaroor. Maar ons bly tans by ander mense, maar ons moet teen die einde van die maand ’n nuwe blyplek soek, en ons weet nie waar ons plek gaan kry nie. Ons het ook nie veel klere en kos nie en reik na die gemeenskap uit om te vra of iemand ons dalk met ’n dak oor die kop sowel as kos en klere om my te kontak as hulle,” pleit Benn.
Mense in die gemeenskap wat skenkings of verblyf kan aanbied, kan Juanita Benn by 062 784 4688 kontak. . Nog ’n gesin, wat ook hul huis op Saterdag 10 September in Collinsstraat, Temperance Town, in ’n brand verloor het, reik ook na gemeenskap uit vir skenkings. Lesley Kruger, wat namens die gesin uitreik, sê die Jantjies-gesin benodig boumateriaal, wat dakplate, balke en spykers insluit. Indien jy die gesin met boumateriaal kan help, kan jy Kruger by 073 617 2057 bel.




