Bumbano Gcam-Gcam is op 15 Oktober dood toe hy op ’n lewendige kragkabel getrap het.

Credit: SYSTEM

’n Macassar-gemeenskapsleier het na sakeondernemings en lede van die publiek uitgereik met ’n nederige versoek om hul hande in hul sakke te plaas vir ’n bedroefde ma wie se kind laat in Oktober doodgeskok is.

Siyanda Gcam-Gcam (32), ’n inwoner van die Macassar-MV informele nedersetting, se lewe het onherroeplik verander toe haar agtjarige seun Bumbano op ’n lewendige kragdraad getrap het.

“Siyanda is werkloos en dinge is moeilik vir hulle. Sy het soveel keer al werk gaan soek, maar nêrens reggekom nie. Haar man werk ook nie.

“Ek wil uitreik na die gemeenskap sodat hulle haar kan help om ’n lekker Kersfees te hê. Dit gaan baie swaar in daardie huishouding. As ons sakemense hul harte en hande wil oopmaak, sal dit baie beteken,” pleit Christiaan Stewart, ’n gemeenskapsleier van Macassar.

Bumbano, ’n gr. 2-leerder aan False Bay Primêr in Macassar, het op 15 Oktober vuil water agter sy ouers se huis gaan uitgooi en op ’n onwettige lewendige kragdraad getrap.

“Ek was nie op daardie tydstip by die huis nie, maar my bure het gesien wat gebeur en hoe hy op die grond begin ruk,” onthou Siyanda.

Sy ma het toe by die huis aangekom en koue water oor sy gesig gegooi.

“My kind het voorheen al episodes gehad waar hy seizures gekry het. Ek het gedink dis weer een, en gewoonlik as dit gebeur, gooi ons koue water oor sy gesig, en dan is hy weer reg,” vertel die ma.

Sy het egter agtergekom iets is fout toe spoeg uit haar seun se mond begin loop.

“Ons het met hom na die Macassar-brandweerstasie gejaag, waar hulle ’n drip aan hom gekoppel het. ’n Dokter het later gekom en ons in kennis gestel dat ons seun oorlede is.”

Sy vertel van daardie dag af het sy, haar man en hul twee dogters van onderskeidelik drie en 15 jaar, se lewens verander.

“Ons trek swaar. My man het sy werk verloor. Ek het my werk verloor. Ons kry net nie werk nie. Ons maak ons hande oop en vra die gemeenskap of hulle ons met kos – dis die belangrikste – kan help. Dié wat ons wil help, kan ook klere vir ons twee dogters skenk. Dit sal so baie beteken vir ons,” sê Siyanda.

Indien jy die familie met kos of klere kan bystaan, kan jy Siyanda by 072 702 7549 bel.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article