“Maak toe! Maak toe! Maak toe die kliniek!”
Met dié woorde het ontstoke pasiënte in gietende reën aan personeel by die Gustrouw-kliniek in Strand gedreunsing terwyl ’n memorandum met klagtes aan die bestuur oorhandig is.
’n Groep betogers onder die leiding van Cheslynn Benn, ’n gemeenskapsaktivis uit Gustrouw, het verlede Donderdag (11 Mei) ’n vreedsame optog binne die perseel van die kliniek gehou.
“Ons mense word so sleg behandel by die kliniek. Eerstens moet bejaardes, mammas met babas en siekes in lang rye buite die kliniek se hekke staan. Hulle staan dag ná dag in die son, reën, wind en koue. Sodra hulle by die kliniek ingaan, dan begin al die probleme,” sê Benn.
Die klagtes sluit in wan-kommunikasie tussen die personeel by die kliniek en die pasiënte en die feit dat pasiënte se kwale glad nie vertroulik behandel word nie.
“Ek was self onlangs by die kliniek en is toe kliphard voor almal ingelig dat ek in die TB-ry moet gaan staan. Ek het self nie eens geweet wat ek onder lede het nie, dis kliphard voor almal uitgeblaker. Daar is geen pasiënt-dokter-vertroulikheid nie,” vertel Felicia Solomons, ’n inwoner van die omgewing.
Benn voeg by die Strand-gemeenskap ondervind die afgelope paar jaar (veral ná die Covid-19-pandemie) baie diensleweringskwessies by die kliniek.
“Die bestuur en gesondheidskomitee van die kliniek is bewus gemaak van al die kwessies, maar hulle het nog niks gedoen om dit op te los nie,” kla Benn.
Die ander klagtes (wat ook deel vorm van die memorandum) is die openings-tyd van die kliniek wat vervroeg moet word in die winter, en dat besoekers wat mediese advies benodig, nie weggewys moet word nie.
“Ons eis dat stelsels ingestel moet word om seker te maak dat mense gehelp word wanneer hulle by die kliniek aankom. In baie gevalle word mense wat nie eens afsprake het nie, voor dié wat wel afsprake het, gehelp. Dit is belaglik.
“Die gemeenskap wat tans gebuk gaan onder ’n hoë voorkoms van werkloosheid wil ook by die bestuur van die kliniek weet waarom hulle nie die kans aangebied word om by die kliniek te kan werk nie,” voeg Benn by.
Wilma Sluyt het die kliniek op Vrydag 28 April met haar babatjie besoek en is ingelig dat geen suster beskikbaar is om te help nie en sy moet die volgende dag terugkom.
Charmaine Saunders is op Vrydag 5 Mei ook van bakboord na stuurboord gestuur toe sy haar afspraak-kaartjie verloor het en ingelig is sy mag nie die dokter spreek nie. Sy moes ’n nuwe afspraak vir Vrydag 2 Junie maak.
“Charmaine is ’n baie sieklike vrou wat nie lank sonder haar medikasie kan gaan nie, en nou moet sy nog ’n maand wag voordat sy die dokter kan spreek. Dis waansin,” sê Benn.
Die groep pasiënte en inwoners van die gemeenskap het ’n memorandum met al hul klagtes aan die kliniek oorhandig, en het die bestuur sewe dae gegun om antwoorde daarop aan die ontstoke gemeenskap te verskaf.
Abulele Dyasi, ’n woordvoerder van die provinsiale gesondheidsdepartement, het bevestig dat die Khayelitsha-oostelike sub-struktuur en die Gustrouw-kliniek se bestuur die memorandum van die gemeenskap ontvang het. “Ons bedank hulle vir die tyd wat hulle geneem het om ons van al die probleme bewus te maak.
“Ons het Dinsdag (16 Mei) persoonlik terugvoer aan die gemeenskap verskaf. Ons wil die gemeenskap se probleme oplos en saam met die gemeenskap werk aan oplossings binne ons gesondheid-stelsel,” verseker Dyasi.



